Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.~ C.J. Langenhoven



Monday, March 7, 2011

DRIVING MISS SONIE!

RONDTE VYFTIEN……..EN DIE TEGNIESE UITKLOPHOU

Jy skakel die tv aan tydens die vyftiende rondte van ‘n boksgeveg.  In die kryt is twee boksers wat bebloed en doodmoeg aanmekaar vashou en so dan en wan nog ‘n hou na mekaar probeer inkry.  Die klok lui en na ‘n paar minute word die een bokser, arm omhoog, na die middel van die kryt gelei.  Die wenner met ‘n tegniese uitklophou.  Met punte gewen.

Van die titaniese stryd in die vorige 14 rondtes weet jy niks.  Van die ander bokser weet jy niks.  Bebloed sit hy daar in die hoek, oë toegeswel, blink gesweet.  Die verloorder?  Miskien op hierdie oomblik en hierdie wedstryd.  Van die maande se toegewyde oefenprogram en die ander gevegte wat hy gewen het sien jy nou niks…..

Ek weet dit lyk dalk of ek summier die handdoek ingegooi het toe ek die diagnose van MSA gekry het, en daarmee saam die advies dat ek liewer nie meer moet bestuur nie, omdat die siekte my reaksietyd aantas.   Die besluit daardie dag was nie net geskoei op hulle advies nie, maar ook op ‘n hele paar insidente gedurende die voorafgaande paar maande wat my klaar in my vermoeëns om te bestuur laat twyfel het. 

Ek skrik ook buitengewoon groot vir skielike geluide en dan verloor ek spierbeheer.  So, byvoorbeeld, het ek al twee maal geval wanneer die foon lui!  Kan jy dink wat sal gebeur as iemand skielik ‘n toeter naby my druk! 

Ek het ook al geskryf in “wanneer aspoestertjie in ‘n pampoen verander”, dat daar tye tussen medikasie is wanneer my reaksies stadig raak en my kop dof.  Ek het baie keer in daardie toestand motor bestuur en by myself gedink dat ek nie op die pad hoort nie en dat ek definitief nie vinnig sal kan reageer as daar iets gebeur nie. 

Dus was bestuur was nog ‘n ding waarvan ek afskeid moes neem en alhoewel dit mag voorkom asof ek binne ‘n oomblik die stryd opgegee het en die handdoek ingegooi het, is dit vooraf gegaan deur die vraag aan myself of ek met my gewete sal kan saamleef as ek vir iemand se dood verantwoordelik sou wees, en dit moes ek opweeg teen die verlies van onafhanklikheid wat gepaard gaan met die opgee van self bestuur.  Mens kom egter op ‘n punt waar jy teenoor jouself moet erken dat jy magteloos is teen hierdie ding en dat dit vir jouself en die mense rondom jou beter sal wees om dit te aanvaar en om op ‘n veilige manier daarmee te probeer saamleef.  Kan jy dink  watter angs  Johnny en my kinders sal ervaar as ek motor bestuur?!  ‘n Tegniese uitklophou dus.

DRIVING MISS SONIE

Maar ek was nog nie bereid om my karretjie op te gee nie!  En ook nie heeltemal al die rondlopery nie!

My karretjie is outomaties en dit is baie maklik om die rolstoel in hom te laai.  Aanvanklik was daar baie teenstand deur my pêlle om my motor te bestuur, maar geleidelik is dit ook besig om te verdwyn!

En wat ‘n heerlikheid is dit nie om saam met ‘n ander vrou te gaan inkopies doen nie!  Nie een van ons sou onsself voorheen soveel tyd saam met mekaar gegun het nie.  Oor koppies cappuchino filosofeer ons oor die lewe en leer ons mekaar se probleme ken en werk ons saam aan die oplossings.

Daar is oombliklik iemand wat ‘n eerlike opinie kan gee oor ‘n kledingstuk (en nou word Johnny die vraag “hoe lyk hierdie broek?”, gespaar!) .  Iemand vir wie jy kan vra, “watter sort mascara gebruik jy?  Wat dink jy kan ek in daardie bedding voor die venster plant?  Is hierdie kleur teëls reg vir my badkamer?

By hulle het ook al ‘n les of twee oor verbruikersregte geleer.  “Wat is hierdie winkel se beleid oor klere wat ek terug bring”? Veral belangrik, aangesien ek dit selde in die winkel kan aanpas.  En “kan u asseblief uitvind of hulle my nommer by ‘n ander tak het”?

Inkopies saam met ‘n vriendin is voorwaar ‘n uitklophou en iets wat jou nader aanmekaar bring!

4 comments:

  1. Sjopping (dit is reg gespel)is net sleg as daar niks is om te koop nie. Of, as alles te duur is. Dis ook sleg as ander mense vir jou in 'n "nuwe" koers in loop! So Sonie, sjopping met jou is puur plesier en word mens se "sien" baie helderder as wanneer mens alleen moet loop net met jou eie oë!!

    ReplyDelete
  2. Jy is besig om in n formidabele skrywer te ontpop ! ! Het hierdie boksgeveg baie geniet ! Ek sien jy benader die geveg op jou agtervoete en berekend ! Jy's pure inspirasie vir my ! Baie baie liefde xxxx

    ReplyDelete
  3. Dankie Ilse - die totale oorgawe waarmee jy hierdie sjopping trippies doen, maak dit vir my óok pure plesier!

    ReplyDelete
  4. Christine Appel Jou posittiewe gees is 'n kosbaar!
    March 19 at 11:22am · Unlike · 1 person

    Marlene Van Jaarsveld Nou so lekker gelees aan die griffel van jou! I'm coming to drive you someday Miss Sonie!! Be ready!!
    March 28 at 8:27am · Like
    Sonja van Rhyn Hei, ek sien uit hierna!
    March 28 at 8:29am · Like

    Marlene Van Jaarsveld Maar ek ry woes hoor...!!
    March 28 at 8:31am · Like

    Marlene Van Jaarsveld From Driving Miss Daisy: Boolie Werthan: What I need is for somebody to drive my mother around
    Hoke Colburn: Well, if you don' mind my askin', sir, how come she's not hirin' for herself?
    Boolie Werthan: See, it's kind of a delicate situatio...
    See More
    March 28 at 8:41am · Unlike · 2 people

    ReplyDelete