Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.~ C.J. Langenhoven



Wednesday, May 16, 2012

DIE ANDER MAN(S) IN MY LEWE




My man het hom lankal daarin berus dat hy my moet deel.  My kinders ken hom goed, want hy is ‘n gereelde besoeker by al die groot geleenthede in ons lewe. Tydens Kersfees, Paasfees en verjaardae maak hierdie buitelander altyd ‘n draaitjie hier.

Gister het hierdie lang, donker Switser onverwags hier opgedaag vir ‘n welkome besoekie, hierdie keer elegant geklee in silwer.  Gisteraand het ek liggies met hom geflankeer, maar vanmiddag, wanneer manlief gholf speel, beplan ek iets meer intiem vir ons tweetjies. In die slaapkamer gaan ek my stadig laat verlei deur hom.  In die bed, met ‘n boek, gaan ek hierdie minnaar, wat nooit teleurstel nie, se silwerpakkie afskil en hom stadig, blokkie vir blokkie op my tong laat smelt...want jy, Mnr Lindt, is ‘n man so na ‘n vrou se hart!

Maandag gaan die liewe Lilian, wanneer sy my help aantrek, my weer aanpraat oor wat sy ‘Mamma-se-tjokkelit-boude’ noem!  Vroeërsdae kon ek ‘n gesonde balans handhaaf tussen hierdie sjokolade passie en my ander passies; beweging van verskeie soorte.  Maar, o wee, daardie balans is nou versteur; wanneer ek nie in die rystoel sit nie, lê ek in die ‘lazygirl’!



My kop dink nog ek is daardie vrou waarop my vriendinne jaloers was omdat sy skynbaar enigiets kon eet sonder om vet te word.  Die geheim, girls, is dat sy ‘n hoë verrigting enjin gehad het wat baie brandstof gebruik het; maar daardie Ferrari is nou ingeruil vir ‘n krokkerige ou tjorretjie wat sy tyd in die garage om staan.  Baie ekonomies op brandstof, maar met ‘n voorliefde vir die hoë oktaan petrol!

Die afgelope tyd moes ek van baie dinge afskeid neem, maar ek klou egter hardnekkig vas aan hierdie laaste passie, aangemoedig deur my vriendin se leuse; “Die lewe moet kwaliteit hê”!

Ek probeer my bes om die gewoonte ten minste af te skaal.  Vra vir manlief om asseblief geen sjokolade in die week hier in te dra nie, want as ek dit eers gesien het kan niks hierdie sjokolis keer nie.  Ek neem my gesondheidskonsultant se raad ter harte en laai een 85% kakao Lindt blok in die trollie, terwyl ek vinger swaaiend vir manlief verduidelik dat hierdie dun, anti-oksidant gevulde blokkie in ons altwee se behoeftes vir die week moet voorsien.  Ek probeer my bekeer…maar ai, die vlees is swak en ek faal keer op keer!

Die verleidings in die kassier-ry flankeer met my…die Belg, Mnr Côte d’Or maak ogies vir my– saam met Mnr Lindt kan ons in ‘n stoute ‘ménage et trois’ ontaard!  En gooi nou die Italianer, Mnr Ferrero Rocher hierby en ons het sommer ‘n lelike (heerlike) orgie!

Dan is daar natuurlik my ou staatmaker; Mnr Cadbury.  Altyd bereid om my in sy arms terug te neem wanneer my beursie my nie toelaat om in die hogere geselskap van die ander menere rond te flerrie nie.  Altyd beskikbaar vir my; net ‘n vinnige paar tree tot by die hoekkafee!



NS: Dankie Linette vir die ekstra lang, silwer geklede Meneer al die pad van Amerika!  Niggie Marlene wanneer jy Mnr Lindt daar in Switserland raak loop, dra asseblief my liefdegroete aan hom oor!

Monday, February 13, 2012

EK KRY NIE MY ‘MIND’ OOR HIERDIE ‘MATTER’ NIE




Saam met hierdie siekte oor die afgelope paar jare het daar ook allerhande rate en kure gekom.  Almal van hulle met goeie bedoelinge om my gesond te kry.  Party van hulle het ek probeer, maar, soos my vriend Kobus vanoggend tereg aanhaal; “Some remedies are worse than the disease”!

So hoor ek dan vele kere van ‘n dokter wat ‘n masjien het wat wondere verrig.  Hierdie veelsydige masjiene, word beweer, kan jou na ‘n paar halfuur sessies genees van enigiets vanaf kanker tot hardlywigheid.  Nou vra ek julle hoekom is daar nog so baie siek mense in hierdie wêreld en hoekom kry elke dokter nie net vir hom so ‘n wonderlike masjien nie?  Dit sal mos vir ons almal baie moeite, verdriet en baie pille bespaar!

Dan is daar die beweringe dat ons water vol allerhande swaar metale en ander skeffiebeffels is wat verantwoordelik is vir lelike siektes.  Vir die wis en die onwis skaf en toe maar vir my ‘n waterdistilleerder aan.  Dit, dink ek toe, kan ten minste nie skade aanrig nie (dis nou behalwe die skade aan my bankbalans).  Maar ook dit het niks gehelp, gekeer, of verbeter nie en na Eskom se verhoging in elektrisiteits tariewe sluit ek nou daardie episode af met die volgende advertensie; Te koop:  Waterdistilleerder in goeie werkende toestand.

In my desperate pogings om met ‘n hiper-gesonde lewenstyl wal te gooi teen wat besig was om te gebeur, was ek kort-kort in een of ander gesondheidswinkel.  So kruis my pad toe met die eienaar van een so ‘n winkel wat beweer dat hy homself van MS genees het, en dat hy sy geheime met my sal deel as ek ‘n afspraak met hom maak.  Opgewonde maak ek ‘n afspraak en agter in sy kantoortjie vertel hy my dit is die amalgaamstopsels in my tande wat hierdie probleme veroorsaak.  Maar, gooi ek wal, ek het al vyf jaar gelede die amalgaamstopsels met porseleinstopsels vervang.  Nou maar dan moet dit my wortelkanaal behandelings wat die probleem veroorsaak.  Sy raat daarvoor is; ek moet Pretoria toe na ‘n tandarts vriend wat onder narkose die sondige tande met wortelkanale en al chirurgies sal verwyder.  Met groot oë  vra ek of ek dan nou valstande sal moet kry?  Nee, antwoord hy, valstande van enige aard is net so giftig soos amalgaam en wortelkanaal behandelings.  Vierhonderd rand later vlug ek daar uit met die belofte dat ek daaroor sal dink.  Gmff, hy ken my sleg!  Ydele mens wat ek is kon ek my nie vereenselwig met die prentjie van ‘n gebit met vele gapings nie!



Ek het ook die organiese paadjie geloop en vroegdag opgestaan om vars produkte by plaasmarkte te koop.  Die liggaam kan blykbaar homself genees as jy hom net van die regte bestanddele voorsien, dus het ek myne die beste kans gegun deur hope organiese groentes en vrugte te versap, maar ook dit het geen effek op my besonderse pestilensie gehad nie, maar al die organiese afval het darem baie lekker kompos vir my tuin gemaak!

So met die tyd het ek meer sinies geword oor wonderkure en agter gekom dat desperate mense maklik die prooi van ander se geldmaakplanne word.  ‘n Vriendin van my het altyd gesê; “wanneer mense regtig siek is, gaan hulle na regte dokters”. Vir alle verdere voorstelle van wonderkure het ek dus die volgende standaard antwoord geformuleer; is daar dubbel blinde toetse daarop gedoen en waar kan ek hierdie toets resultate te lese kry?  Die mediese professie het al klaar ‘n aansienlike duik in ons bank balans gemaak en om elke kuur daar buite persoonlik te toets sou net tot bankrotskap lei!

Tot laas Vrydag het ek rus en vrede gehad dat ek nog altyd my bes gedoen het om hierdie ding met hand en tand (met al my tande nog in my mond!) te beveg.  Toe stap iemand hier in op ‘n oomblik wat ek besonder weerloos was en met plastiek skotteltjie binne maklike reik afstand vir die nare simptome van MSA gelê het.  Sy vertel dat daar in die Huisgenoot ‘n artikel is oor ‘n man wat homself genees het van motorneuronsiekte – dieselfde ene wat nou vir Joost van der Westhuysen treiter en dat dit net ‘n kwessie is van “mind over matter” dan is alles hankiedorie.

Saterdag stuur ek vir Johnny kafee toe vir die Huisgenoot (ek sweer dis die eerste een in jare!) en ‘n sjokolade (nee, ek gaan nie meineed pleeg nie, julle ken my te goed!).  Hierdie artikel moet ek darem eerstehands lees.  Die pragtige foto van ‘n atleties gespierde man met ‘n pienk-met-wit-kolle Speedo aan wat deur die branders hardloop is treffend (jammer meisies, maar hy het sy vrou aan die hand), en die enigste sigbare teken van sy siekte is ‘n minder gespierde linker arm.  Hy berei hom tans voor om in die paralimpiese spele te swem en hy het die siekte oorkom deur daaglikse meditasie en deur bevestigingstegnieke toe te pas (hy sê oor en oor vir homself om gesond te raak).

Ai tog, waar, hoe en hoekom het ek en Joost en al die duisende ander pasiënte met neurologiese siektes so jammerlik gefaal.  Is ons ‘minds’ net nie sterk genoeg vir hierdie ‘matter’ nie?

Maar wag ek het dinge om te gaan doen, soos om kruisbeen te gaan sit en diep en aandagtig myself te oortuig dat ek gesond sal word……

NS: Kan iemand asseblief vir Ruda Landman vra om behoorlike navorsing te doen en ‘n goed gegronde televisieprogram oor neurologiese siektes te saam te stel, of kan een van ons vele goeie joernaliste 'n artikel te skryf oor neurologiese siektes.  Maar iets moet gedoen word om die optimistiese, liggelowige ou bottelblond te red van haarself en ander se verwagtinge weens allerhande spekulasies in tydskrifte en Sondagkoerante!  





Sunday, December 4, 2011

MY HART PRAAT AFRIKAANS ( Nederlands, Frans, Maleis, Engels…)



In die vroeë oggendure hoor ek die Muezzin roep vanuit die moskee ‘n paar blokke van ons huis.  Dit laat my altyd met ‘n rustigheid oor die voorreg wat ons in hierdie land het om enige godsdiens vrylik te beoefen.  Hierdie moskee, die NG kerk en die Presbiteriaanse kerk is letterlik ‘n klipgooi van mekaar geleë.  ‘n Entjie see se kant toe is ‘n Joodse moskee omskep in ‘n woonhuis vir iemand.  Ek wonder waar aanbid die Jode nou?

Hoekom is die moskee hier in die middedorp, verweg van die woonbuurt van die Moslems wat daar bid?  Het hulle eens hier om die moskee gewoon?  Hoeveel lief en leed lê opgesluit in die geskiedenis van ons dorpie, die Strand?

Gister neem Johnny my skoenwinkel toe.  Tevrede met my nuwe aankopie, vra ek hom om my gunsteling gemaklike skoene, my “kaparangs” vir my aan te trek.  Die vrou wat ons bedien kyk verwonderd op en sê, “Haai mevrou, dis ‘n Maleise woord daardie!” Sy verduidelik dat ‘n kaparang in soort aanglip sandaal met ‘n houtsool is en wonder hardop waar ek aan die woord kom.  “Seker by my ma gehoor?” antwoord ek.  Ek wonder waar het ek die woord geleer?  Weet ek al my hele lewe lank van kaparangs?  Hoeveel ander woorde van ander tale is deur die geskiedenis  van ons land onlosmaakbaar ingeweef in die kleurryke tapyt van my hart se taal…en my kos, kultuur…my hele menswees.



HAT – Verklarende woordeboek van die Afrikaanse taal;  kaparang, (Jav) Slamse skoeisel bestaande uit ‘n plank of blok, min of meer na die vorm van die voet gesny, wat onder die voetsool kom en voorop ‘n regopstaande rolletjie het wat tussen die eerste twee tone vasgeknyp word.

Friday, October 7, 2011

MET JOU AAN MY SY…..




Johnny beplan om ‘n paar dae weg te kom van werk en stres en ek moedig hom aan want ek besef dat my daaglikse versorging op sig self ook by dra tot sy stres.

Maar hoe nou gemaak met my wat net nie meer aan my eie genade oor gelaat kan word nie?  Lilian help tot so 4 – 5 nm en dan klok sy uit.  Die versorger wat ons al gebruik het, kan ek net in klein dosisse hanteer.  Hier teen die derde aand is my verdraagsaamheid dun geskuur deur haar onophoudelike gebrabbel oor haar ander pasiënte (saans is my uithou vermoëns al tot die uiterste beproef deur rugpyn, deur gesitte boude en brandende voete van perifirele neuropatie).


My getroue vriendin Susan se brawe offer om vir die hele week versorger te wees, word dus met groot dankbaarheid en verligting deur Johnny en my aanvaar.  Nou kan hy met ‘n geruste hart ontspan in die wete dat hy my agterlaat in die liefdevolle sorg van ‘n bekende.  Maar ek bespeur tog ‘n sweempie van vrees by my vriendin vir hierdie vreemde situasie waar ek nou die pasiënt en sy die versorger is…

Die vrees is egter blitsig uit die weg geruim deur Susan se plat op die aarde persoonlikheid, wat haar by enige omstandighede, met vreugde en humor, kan laat aanpas.

En ek dink terug aan die baie kuiers en vakansies saam met haar en Frans en hulle gesin en die herhinneringe laat altyd ‘n glimlag op my gesig verskyn.  Susan en die Albertyns sien altyd die snaakse kant van enige situasie en ook die moeilike uitdagings word prontuit in die gesig uit gelag!  Al het die detail van party vakansies al vervaag, onthou ek dat kuier saam met hulle altyd vol pret was, en geleenthede om histeries te lag, volop.   Haar kinders noem haar nie verniet “Monkey” nie!!


Hierdie wekie saam met jou het ek weer ‘n paar lesse geleer uit die manier waarop jy dinge doen.  Ek het lank gedink oor watter soort blom jy sal wees, maar jy, Susan, is soos ‘n bergstroom. Soos ‘n bergstroom vloei jy met gemak om die rotse van die lewe, die sonskyn vasgevang in jou kabbelende waters.  Soet waters wat almal verkwik wat daarvan drink.

Gou en gemaklik pas jy aan by my roetine en draf dit met vreugde kaf en bederf my dat ek soos ‘n koningin voel.  Met humor word ek tot ‘queenie’ herdoop.  Saans stap jy en buurvrou met met die hondjies en kort voor lank kom Pat ook lag-lag terug en het jy suutjies ook in haar hart ingekruip!


Op die vooraand van jou vertrek kook jy vir oulaas ietsie vir ons en toe ek vra watter musiek moet ek speel, antwoord jy, “iets jollie”!  Ek soek die ipod deur verby Mozart en Rachmaninoff, Ella Fitzgerald en briek by Elvis.  Maar ek sien jy is nog nie heeltemal tevrede nie en gaan koop gou aanlyn  Les Javan se “Met jou aan my sy”, die liedjie wat ons al heel week luister.  Met die wonderwerke van tegnologie is dit woepswaps op my ipod.  Spontaan begin jy in die kombuis skappiedôl, riel en namastap en wonder hardop of daar nie êrens in jou genetiese verlede dalk ‘n boesman of ‘n nama was nie, want hierdie musiek praat met jou lyf!

My aardse en praktiese maatjie laat my agter met ‘n stoep vol blomplante, ‘n veiliger manier om van die rystoel in die lelike lazyboy te kom, die halwe bottels versandsuikerde heuning saam gesmelt in een pot en my nuwe broeke se some almal afgesteek en saam met jou huis toe om gesoom te word.





Die laaste oggend saam met jou is ek vol gemengde gevoelens;  baie bly dat my bokkie op pad terug is, maar weemoedig om van jou afskeid te neem na ‘n week van vreugdevolle saam wees waar onnodige woorde oorbodig is.

Ons drink ‘n koppie tee, speel ons jollie liedjie en jy skappiedôl vir oulaas deur die kombuis…

En ek sien die vreugde is in jou, kom maklik uit jou en versprei na die mense om jou.  Ek gaan daai vreugde in my soek en dan gaan ek onbevange skappiedôl op ons jollie deuntjie!

Thursday, September 22, 2011

GEVONNIS; R6000 OF 6KG!






Gister het ek my tromp op vasgeloop in hierdie vonnis van die arbeidsterapeut, haar blou oë genadeloos en stip op my gerig. Jy het oortree en jy gaan betaal sussie!  Ag, en ek het gedink dis die een ou sondetjie waarvoor ek noooooit uitgevang sal word nie.  Maar helaas, susters in die ‘vetdrukking’, “the mighty has fallen” en ek doen hiermee nederig aansoek om toelating tot die “weight watchers” klub!

Ek hoop dis ‘n verbruikers vriendelike klub hierdie, want vir die afgelope paar jaar was ek ‘n eensame uitgeworpene wat in die buitekringe beweeg het saam met diegene wat geweeg-en-te-lig bevind is vir lidmaatskap.  Moes ek vele vrae verduur soos “hoekom is jy so maer”, of “moet jy so maer wees”.  Maar die toppunt van nydigheid is sekerlik vasgevang deur die vrou in die gym wat, nadat ek haar vertel het dat ons met vakansie was, met ‘n op en af veeg van haar oë oor my lyf gesê het, “and wasn’t there any food”?!!

Moet nou nie dink ek hoor nie daardie onderdrukte laggies agter julle hande nie!  Ek, die voormalige, hiperaktiewe profeet van ‘n gesonde leefstyl, met “Eet vir volgehoue energie” onder die een blad en “Patrick Holford” onder die ander blad, het die gesonde pad byster geraak en verdwaal in vele paadjies geplavei met Lindt sjokolade en vele koffiewinkeltjies propvol hoëvet, lae vesel versnaperings.

Verlede September, toe die MSA vonnis gevel is, kon ek beswaarlik ‘n bord kos in die oë kyk sonder om naar te word, dus was dit ‘n groot skok om nou een jaar later gevonnis te word vir ooreet.  Tussen toe en nou het almal vir my allerhande lekker goedjies aangedra om my weer aan die eet te kry, maar hulle het vergeet om te sê dat ek moet briek aandraai.

Maar al maak ek nou al my medepligtiges bekend, moet ek eerlik erken, ek het alles wat hulle aangedra het vrywillig verorber!  Wanneer Johnny saans ingeloop het met die sakkie inkopies, was ek en die honde ewe nuuskierig en ewe bly oor die inhoud van daardie sakkie (en hulle is nou ook vet) (lelike, bar, drieletter woord daai!).  Hier is voorraad opgebou in die eetkamerlaaitjie wat skrik vir niks en dan is daar nog my geheime voorraad in my bedkassie se laai ook.

Ek kan ook verskeie van my medikasies beskuldig dat hulle bygedra het tot hierdie dilemma.  Ek kan ook die dokter wat gesê het ek moet soggens ‘n pakkie chips eet om my lae bloeddruk op te stoot, hierby insleep, maar ek moes geweet het wat die gevolge gaan wees( het mos ‘n boekrak vol gesondheidsbybels wat ek gelees het).  Toe ek al hoe minder beweeg het, moes ek mos geweet het dat ‘n motor wat stilstaan nie so baie brandstof gebruik nie.  Maar ek het bly dink dat ek nog daardie hoëverrigting sportmotortjie het en dan gooi ek die tenk vol met hoë oktaan brandstof.

Weet julle dat ‘n sweetpakbroek soos ‘n babygrow is? Hierdie broeke wat ek aan die begin van die winter gekoop het, pas nog lekker gemaklik en flous jou om te dink dat alles nog reg is.  Die stukkende skaal het ons in Januarie uitgegooi en toe soos volstruise met ons koppe in die sand, gemaak asof ons nie sien dat die rolletjies groei nie.  Die mense het mos gesê dat ek te maer is, het ek my self getroos.

Johnny gaan vir ‘n cholesterol toets en die rooi liggies begin flikker toe die medikasie opgestoot word van 40mg na 80mg.  Toe kom die nuwe skaal en ek begin wonder of die vetjies nie te veel raak nie.  Dis my seer rug wat die boodskap uiteindelik laat registreer.  Ek is met die seer rug na die fisioterapeut, wat tot die gevolgtrekking gekom het dat ek skeef sit en dit veroorsaak die rugpyn.

Gister is ek toe na die arbeidsterapeut om die skewe sittery aan te spreek en toe kom die vraag, “Het jy gewig aangesit"?  Ek beken met 'n skaam kopknikkie.  "Hoeveel"? My brein maak 'n paar vinnige somme en ek trek 2kg af van die 6kg, want julle het mos gesê ek was te maer.  Maar sy kyk vir my aan met die oë van ‘n vrou wat vrouens ken wat lieg oor hulle ouderdom en gewig en toe volg die vonnis, “Sonja jy het te vet geword vir jou rystoel se kussing, dus bied die kussing nie die nodige ondersteuning vir jou rug nie”!  Prys van ‘n nuwe kussing R6000 (nee die mediese fonds gaan nie 11 maande later weer betaal nie vir ‘n nuwe kussing nie), of verloor die 6kg sodat daardie boude weer netjies in die kussing se holtetjie pas!  Ouch!

Monday, September 5, 2011

ONE YEAR LATER...



On 6 September one year ago, I was diagnosed with MSA – Multiple System Atrophy - a neurological, degenerative disease most people have never heard of. It’s been a year of immense battles on all fronts and in the words of a friend:  “I’m fighting a battle I can never, ever win".

When I read those words I realised that this disease is turning me into a loser and I DON’T LIKE BEING A LOSER!  No matter how hard I try, week after week this progressive disease is claiming more and more of my abilities.  I simply hate being the bearer of bad news and don’t know how to answer that question so often asked: “How are you”?  Or even worse: “Are you any better”?

I find myself totally unable to tell people that I’m not getting any better and, unless research comes up with a cure soon, it is unlikely that I ever will.  For more information on MSA read the following link and please sign the petition:



Desperate to find a support group, or someone in the same situation to chat to and share practical tips on how to cope with some of the symptoms, I recently scanned the internet.  Unable to find anything in South Africa, I joined a site called www.patientslikeme.com.  Hoping to find some positive news, I read through the profiles of the patients with MSA, but found nothing that gave me any hope.

Then a thought crossed my mind - is there anyway I can bring a positive message of hope to these people?  I also realised that fighting this alone is getting me nowhere.  I need to get help and take the frontline of my battle to where it can really make a difference.

Coming up on the 3rd October is world MSA day.  Please click this link and read about this campaign to create awareness of MSA:



Also, search for the facebook group:  World MSA Day.

The campaign, A MILE AND A CANDLE FOR MSA, hopes to create awareness, educate people and find funds for research that may lead to a cure in the future.

I too, am dreaming of a cure and the day that I’ll be able to bring you the good news that I am better. Therefore I am putting my face and my name to this disease and I am humbly asking you to please join me in this venture to MAKE WINNERS of all those thousands of people out there who are suffering the consequences of this dreadful disease.

 I have little chance to achieve anything by myself, but with the united help of my friends, and your friends, and their friends…..who knows what we can achieve! 

Let’s start by taking just one small step towards a big goal by sending this message in every possible way to everyone you know.  Give us HOPE and show us YOU CARE, by burning a candle at 8 pm on the 3rd of October (or walk a mile)!

“One person can make a difference, and everyone should try”.  By John F Kennedy

Sonja van Rhyn

PS:  It will be heart-warming to get some feedback on how many candles will be burning, and it would enable me to let YOU know what YOU have achieved!  Feel welcome to leave a comment, your name or even a photo (perhaps with that burning candle!), on my blog or facebook.

NS:  Aan almal wat gereeld my griffels lees: hierdie keer is die griffel in Engels omdat ek hoop om dit baie verder te versprei as slegs aan mense wat DIE TAAL magtig is! 


Wednesday, August 31, 2011

EK KAN IN DIE BOS PIEPIE!




Vanoggend lê ek weer in die bed en mediteer oor die lewe en die draaie wat hy met mens maak en aan die familie  en vriende wat ons ondersteun.  Ek dink aan 'n paar van die ander “blomme van staal” in my lewe waaroor ek nog wil skryf.  Aan Susan en Frans, Ilse en Anton,….en al die lekker dinge wat ons al saam gedoen het. Vakansies, 4x4 avonture op ver paaie, staproetes, blommekyk…..te veel om oor te skryf….maar waar het dit alles begin?

En ek besef die waterskeiding vir my het in 1993 gekom toe ons by die Oranjerivier afgeroei het!  Ja, ons het voor dit al saam gekuier, maar daardie eerste trippie met die kano’s by die Grootrivier af was vir my die waterskeiding.  Op daardie vaart het ek ‘n baie belangrike ding geleer wat my kop oopgemaak het vir baie ander avonture:  EK KAN IN DIE BOS PIEPIE!


Ek kan ook alles wat ek nodig het vir 4 dae in ‘n klein blou drommetjie pak.   Ek, wat my hare elke dag was en droog blaas, kan sonder ‘n haardroër regkom vir ‘n paar dae!  As daar nie ‘n spieël beskikbaar is nie, weet ek tog nie hoe ek lyk nie!  Dit het my reishorisonne verbreed en ek was nie meer gebonde aan hotelle en plekke waar daar chalets is nie. 

Om ‘n kano saam met jou man te roei is ‘n uitdaging wat enige huwelik tot die uiterste beproef.  Menige mede-roeiers sal kan getuig van die onmin tussen gades as daardie kano omval omdat jy bo-oor ‘n klip geroei het ipv links of regs verby en dit is voorwaar ‘n goeie les in kommunikasie tussen huweliksmaats.  As julle nog met mekaar praat teen die einde is dit ‘n teken dat hierdie huwelik baie storms sal kan weerstaan!

EK EN LOUBSER, GAMKAP 1996

Die stroomversnellings in die rivier het my braaf genoeg gemaak om baie ander avonture met selfvertroue aan te pak.  Dit het my geleer om te swem as jy uitval, terug te klim en weer te probeer!

PIESANGSNY KOMPETISIE, JOHNNY EN FRANS

Maar een van die belangrikste lesse was, dat ek saam met my man, my kinders en die lekker geselskap van ‘n paar goeie vriende, onder enige omstandighede en op enige plek gelukkig kan wees!

DIE EINDE!
http://www.orangemsa.com/

I salute the people who help to raise awareness of MSA in any way and challenge all of you to do so!
http://www.world-msa-day.org/World-MSA-Day/HOME.html - lees hier! 3 Oktober is MSA dag.  Kry die  kerse reg en brand hulle vir ons asseblief