Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.~ C.J. Langenhoven



Wednesday, September 17, 2014

TERUGBLIK

BRIEF AAN VRIENDIN 5 NOVEMBER 2010


Toe ek onlangs iets op my rekenaar gesoek het, het ek op hierdie brief afgekom. Dit is geskryf twee maande na ek gediagnoseer is met Meervoudige Sisteem Atrofie (Multiple System Atrophy), en bied 'n terugblik op die eerste stresvolle dae van my MSA reis.
Die name is verander. En my (ons) lewe het drasties verander. Partykeer ten goede.

“Hello Esther,
Ek weet ook nog nie heeltemal wie ek nou is nie.  Het ‘n groot deel van my identiteit verloor saam met alles wat ek nie meer kan doen nie.  Ek is nou nie meer Sonja die danser, gymmer, stapper, avontuurlike 4x4 vakansiebeplanner, tuinmaker, bakster/kok/onthaler… nie. Ek hoop hier broei ‘n nuwe Sonja uit.

Intussen vorder my badkamerplanne stadig maar seker.  Verlede Maandag het ek ernstig daaraan begin werk en hier in die badkamer rond geshuffle met ‘n maatband.  Dit is moeilik om ‘n badkamer te beplan vir die verwagte verlies aan beweging; vir ‘n toekomstige rystoel gebruiker. Teen die tyd wat arme Johnny by die huis kom, was ek so gefrusteerd dat ek ‘n vloermoer gegooi het!  Elsa bel toe presies op daardie oomblik, en toe sy hoor dat ek tranerig en moedeloos is, bied sy aan om die 3 arbeidsterapeute by haar skool vir gestremdes waar sy werk te vra vir raad.  

Dinsdagoggend gee sy toe vir my die naam van ‘n winkel wat spesialiseer in produkte vir gestremdes en hulle gee toe weer die naam van ‘n man wat spesialiseer daarin om plekke toeganglik te maak vir gestremdes.  Vrydagoggend het hy toe kom kyk na my planne, my gerus gestel dat ek op die regte pad is.  Weereens het die ‘toeval’ ‘n wonderlike persoon op my pad laat beland.  Guy Davis van DISABILITYSOLUTIONS is self in ‘n rystoel.  Hy het die gebruik van sy bene ‘n paar jaar gelede verloor nadat ‘n fusie vir ‘n sportbesering gefaal het.  Nadat hy die nodige aanpassings in sy eie huis gedoen het, het so baie mense hom gevra wat om te doen, dat hy vir heropleiding gegaan het om in hierdie rigting te spesialiseer.  Hy was ook verantwoordelik om Kaapstad en PE sokkerstadions toeganklik te maak vir gestremdes.  Vir daardie soort werk vra hy sy volle tarief, vir skole ‘n verminderde tarief en vir individue soos ek doen hy dit gratis! – omdat hy weet hoeveel onkostes daar is wanneer so iets gebeur.

Die bouer was intussen hier vir ‘n konsultasie die kabinetmakers kom volgende week.  Ons wil eers in Januarie dit doen – wil nou eers alles rustig beplan en lekker kuier saam met my kinders voor die bouers kom stof maak.

More oggend kom Hansie ‘n paar ekstra dinge hier doen.  Ek het gister hier by my nuwe ‘ramp’ na die tuin afgevaar en ‘n paar potte gesnoei.  Wil net alles so ‘n bietjie reg ruk voor die kinders kom kuier.  Dis wonderlik hoe so ‘n lekker vooruitsig ‘n mens kan inspireer om dinge te doen!
Liefde, Sonja”


Die seuns het kom kuier vir Kersfees 2010


Loubser links, Chris regs




Die badkamer is suksesvol verander in Januarie 2011





Heelwat water het intussen in die see geloop...




Sedert 2011 stap ons elke jaar op MSA dag 3 Oktober as deel van die wereldwye bewusmakingsprojek; Walk or Cycle & light a candle for MSA






 
Sedert 2012 is daar elke jaar vriende wat die Camino in Spanje vir bewusmaking stap



Maart 2014 stig Liebet Marie Jooste, Karin Holtzhausen, en ek, die bewusmakingsprojek; 'Art for MSA'. Voorblad ontwerpe deur Liebet



Onlangse onderhoud met Johnny Davids van Kwela

Sissi maak my netjies vir die kameras

Liebet Jooste en ek gesels met Johnny Davids


Dankie vir hierdie pragtige ontwerp Catherine Holtzhausen van CAT Designs

 Dankie aan Laurettte en Sissi vir die gebruik van hul fotos

Klaagliedere 3:22-23

Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke more nuut. U trou is groot.

No comments:

Post a Comment