Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.~ C.J. Langenhoven



Friday, October 7, 2011

MET JOU AAN MY SY…..




Johnny beplan om ‘n paar dae weg te kom van werk en stres en ek moedig hom aan want ek besef dat my daaglikse versorging op sig self ook by dra tot sy stres.

Maar hoe nou gemaak met my wat net nie meer aan my eie genade oor gelaat kan word nie?  Lilian help tot so 4 – 5 nm en dan klok sy uit.  Die versorger wat ons al gebruik het, kan ek net in klein dosisse hanteer.  Hier teen die derde aand is my verdraagsaamheid dun geskuur deur haar onophoudelike gebrabbel oor haar ander pasiënte (saans is my uithou vermoëns al tot die uiterste beproef deur rugpyn, deur gesitte boude en brandende voete van perifirele neuropatie).


My getroue vriendin Susan se brawe offer om vir die hele week versorger te wees, word dus met groot dankbaarheid en verligting deur Johnny en my aanvaar.  Nou kan hy met ‘n geruste hart ontspan in die wete dat hy my agterlaat in die liefdevolle sorg van ‘n bekende.  Maar ek bespeur tog ‘n sweempie van vrees by my vriendin vir hierdie vreemde situasie waar ek nou die pasiënt en sy die versorger is…

Die vrees is egter blitsig uit die weg geruim deur Susan se plat op die aarde persoonlikheid, wat haar by enige omstandighede, met vreugde en humor, kan laat aanpas.

En ek dink terug aan die baie kuiers en vakansies saam met haar en Frans en hulle gesin en die herhinneringe laat altyd ‘n glimlag op my gesig verskyn.  Susan en die Albertyns sien altyd die snaakse kant van enige situasie en ook die moeilike uitdagings word prontuit in die gesig uit gelag!  Al het die detail van party vakansies al vervaag, onthou ek dat kuier saam met hulle altyd vol pret was, en geleenthede om histeries te lag, volop.   Haar kinders noem haar nie verniet “Monkey” nie!!


Hierdie wekie saam met jou het ek weer ‘n paar lesse geleer uit die manier waarop jy dinge doen.  Ek het lank gedink oor watter soort blom jy sal wees, maar jy, Susan, is soos ‘n bergstroom. Soos ‘n bergstroom vloei jy met gemak om die rotse van die lewe, die sonskyn vasgevang in jou kabbelende waters.  Soet waters wat almal verkwik wat daarvan drink.

Gou en gemaklik pas jy aan by my roetine en draf dit met vreugde kaf en bederf my dat ek soos ‘n koningin voel.  Met humor word ek tot ‘queenie’ herdoop.  Saans stap jy en buurvrou met met die hondjies en kort voor lank kom Pat ook lag-lag terug en het jy suutjies ook in haar hart ingekruip!


Op die vooraand van jou vertrek kook jy vir oulaas ietsie vir ons en toe ek vra watter musiek moet ek speel, antwoord jy, “iets jollie”!  Ek soek die ipod deur verby Mozart en Rachmaninoff, Ella Fitzgerald en briek by Elvis.  Maar ek sien jy is nog nie heeltemal tevrede nie en gaan koop gou aanlyn  Les Javan se “Met jou aan my sy”, die liedjie wat ons al heel week luister.  Met die wonderwerke van tegnologie is dit woepswaps op my ipod.  Spontaan begin jy in die kombuis skappiedôl, riel en namastap en wonder hardop of daar nie êrens in jou genetiese verlede dalk ‘n boesman of ‘n nama was nie, want hierdie musiek praat met jou lyf!

My aardse en praktiese maatjie laat my agter met ‘n stoep vol blomplante, ‘n veiliger manier om van die rystoel in die lelike lazyboy te kom, die halwe bottels versandsuikerde heuning saam gesmelt in een pot en my nuwe broeke se some almal afgesteek en saam met jou huis toe om gesoom te word.





Die laaste oggend saam met jou is ek vol gemengde gevoelens;  baie bly dat my bokkie op pad terug is, maar weemoedig om van jou afskeid te neem na ‘n week van vreugdevolle saam wees waar onnodige woorde oorbodig is.

Ons drink ‘n koppie tee, speel ons jollie liedjie en jy skappiedôl vir oulaas deur die kombuis…

En ek sien die vreugde is in jou, kom maklik uit jou en versprei na die mense om jou.  Ek gaan daai vreugde in my soek en dan gaan ek onbevange skappiedôl op ons jollie deuntjie!

No comments:

Post a Comment