Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.~ C.J. Langenhoven



Friday, October 22, 2010

DIE VERDWAALDES………EN VERWILDERDES

opgedra aan die man met die sagte stem.....










AAAUUUUUUUUUOOOO!! Weerklink dit in die nagstilte.  AAUUUUUOOOOOOO!!

“Het jy laasnag gehoor hoe huil die honde?” vra ek vir my man.  Nag na nag hoor ek dit.  Die eienaars is seker weg met vakansie.  Dan kom iemand een keer ‘n dag vir hulle kos en water gee, vryf hulle koppies vir ‘n paar minute en los hulle weer alleen.  Maar hierdie honde het meer as dit nodig.  Hulle verlang na hulle mense, hulle trop.  Die mense wat hulle met hulle lewens vertrou en wie se lewens hulle so getrou beskerm.  Die mense na wie hulle met hulle honde oë opkyk en vir wie hulle onvoorwaardelik lief is.

Die vakansie raak te lank.  Hulle raak al hoe rusteloser oor hulle trop wat so lank weg bly.  Die kosbringer vryf nie meer hulle koppies nie.  Hy is haastig, moet nog sy eie honde ook gaan versorg.  Trek nie die hekkie lekker styf agter hom toe nie…… versigtig gaan die een hond nader….stoot so ‘n bietjie aan die hekkie met sy neus.  Die ander kom stel ondersoek in.  Die brawer enetjie stoot die hekkie nog ‘n bietjie verder oop….kyk oor sy skouer na die ander en stap uit.  Die wyfie kom nader, sy loop ‘n  paar treë buitekant die erf, draai om en gaan lê weer in die sonkolletjie teen die muur.  Sy loer onderlangs nuuskierig na die jong hondjie wat nou sy been teen alles lig buitekant die erf.  Die mannetjie lê nog rustig en snork deur dit alles.

Die ander jong hondjie drentel ook uit agter sy boetie aan.  Hulle nuut gevonde vryheid raak nou ‘n opwindende avontuur en hulle hardloop oor die straat om op die buurvrou se struike te piepie.  Die wyfie raak onrustig.  Waar is hulle tropleier?  As hy hier was sou hy hulle lankal terug geroep het. Sy moet hulle keer en gee ‘n kort blaffie om die mannetjie wakker te maak.  Saam hardloop hulle by die hek uit, hardloop verwilderd oor die pad reg voor ‘n kar in wat met skreeuende bande en rasende toeter tot stilstand ruk.  “Blerrie honde!” skreeu die vrou deur die motorruit.

Die geraas het die twee jong hondjies die hasepad laat kies en hulle is nêrens te siene nie.  Om die hoek?  In ‘n ander straat?  Die wyfie snuffel paniekerig rond.  Hier is ‘n bekende reuk!  Die tropleier!  Uiteindelik!  Naarstiglik volg sy die spoor.  Onseker van wat nou aan gaan, stert tussen die bene, volg die mannetjie haar.  Straat op en af, heen en weer.  Die spoor raak weg, maar dan tel hulle dit weer op en hardloop met nuwe moed, sterte en koppe ophoog vir ‘n wyle, peil hulle reguit op die groot hoekhuis af.

Hier is die reuk van baie mense.  Hulle voel verward.  ‘n Man steek sy kop by die deur uit en skreeu saggies “voetsêk” en waai sy arms.  Hulle hardloop oor die straat en staan met wantrouige oë en kyk na die groothuis.  Snuffel dan nog ‘n bietjie rond, maar die spoor neem hulle weer terug na die groothuis.  Hulle waag dit weer nader, versigtiger die keer.  Die man sien hulle nader kom.  Hy kom weer uit, tel ‘n klip op en slinger dit in hulle rigting.  Stamp met sy voet op die grond en skreeu “LOOP”!!.  Terug oor die pad staan hulle ‘n oomblikkie verward en drentel dan snuffelend straat af.  Gaan staan ‘n entjie verder weg en kyk terug na die groothuis.

Baie mense stroom by die groothuis uit, loop oor die grasperke, die paadjies, die sypaadjies, klim in hulle motors en ry weg.

Versigtig, loerend oor hulle skouers, waag hulle dit weer nader.  Hier is nou niemand nie.  Die deur is toe en hulle gaan lê voor die deur in die sonnetjie.  Die tropleier sal hulle hier kry.  Sy reuk het hulle hiernatoe gelei.

Dit raak laat.  Die sonnetjie is nou weg.  Hulle staan op, rek hulle uit en begin dan weer onrustig rondsnuffel.  Die mannetjie voel nou baie angstig en tjank saggies terwyl hy probeer om weer die spoor op te tel.  Hier het nou te veel mense geloop.  Die spoor is weg.  Die son het onder gegaan, die donker sak op hulle toe, die wind loei om die hoeke van die groothuis.  Honger, dors en radeloos verdwaal gaan lê hulle styf teen mekaar in klein bondeltjies teen die deur om uit die snyende koue van die wind te kom.  More sal die tropleier hulle hier kry.  Hulle het nog hoop.

Hulle ruk wakker van ‘n harde gedreun en sien dan die man met die grassnyer.  Hulle ken ‘n grassnyer.  Die tropleier het ook ‘n grassnyer!  Opgewonde en stertswaaiend hardloop hulle nader!  Die tuinier sien hulle aankom, buk af en tel ‘n takkie op wat laasnag deur die wind afgewaai is.  Hy hardloop met swaaiende tak al skreeuend op hulle af.  Voetsêk!!!!! HUIS TOE!!! DIS NIE ‘N PLEK VIR HONDE NIE!

Sterte tussen die bene draai hulle om en kies verwilderd die pad straat af.  Hulle is verlore.  Hulle weet nie meer waar hulle huis is nie.  Die tropleier het hulle in die steek gelaat.

Moedeloos snuffel hulle strate op en af.  Tel hier en daar ‘n ietsie op om te eet.  Keer desperaat ‘n drom om op soek na ‘n stukkie kos.  Hardloop dan weer stert tussen die bene weg en probeer weer in ‘n ander straat.

Dan en wan stap hulle aan die anderkant van die straat by die groothuis verby.  Met wantrouige oë kyk hulle op na die klok wat lui in die toring en hulle wonder waar hulle tropleier is.  Party nagte, wanneer die wind baie koud waai, kom nestel hulle nog op die trappie voor die deur, maar gee dan vroegoggend weer pad voor die tuinier kom.

Partymaal hoor hulle ‘n enjin wat klink soos die motor van hulle tropleier.  Hulle draf nader, oë vol afwagting, die sterte wil-wil net waai.  Die motordeur gaan oop.  Kan dit wees?  Nee....’n vreemdeling.  Teleurgesteld draai hulle om en strompel sterte tussen die bene, koppe omlaag, tussen die huise deur weg.

Moeg en pootseer neem die pad hulle weer op ‘n dag verby die groothuis op die hoek.  Daar staan ‘n man in die deur.  Dié keer is dit ‘n vriendelike man met genoeg liefde in sy hart om hom te ontferm oor die verdwaaldes en verwilderdes.  Hy roep hulle nader.  Met gespitste ore hou hulle hom dop van oorkant die pad. Met ‘n sagte stem roep hy weer.  Die wyfie waag dit ‘n bietjie nader.  Hy steek sy hand uit en die wyfie hardloop stert tussen die bene ‘n paar treë terug.  Die man gaan sit op die trappie en roep weer.  Sy sagte stem herinner haar aan die tropleier.  Stadig…… versigtig waag sy dit nader.  Sy kyk op en sien die sagte oë.  Nog ‘n bietjie nader….. Sy laat hom toe om haar kop te streel terwyl hy saggies met haar praat.  Die mannetjie wag nog wantrouig anderkant die pad.

Die man sit ‘n bakkie met kos uit…..en ’n bietjie water.  Die wyfie is maer, doodhonger.  Die ou lyf verweer van die ontberinge.  Sy waag dit nader.  Eet en drink skrikkerig ‘n bietjie.  Die mannetjie se ore nou belangstellend orent, maar die moed ontbreek nog om nader te kom.  Te veel kere is hy al met stokke, klippe en harde woorde verwilder.

Die man gaan by die groothuis in en die mannetjie waag dit ook nader.  Hy eet en drink ‘n bietjie met wantrouige oë op die deur gerig, die lyf gespanne, die bene reg op weg te hardloop.

Die sagte stem nooi hulle in.  Binne brand die vuur warm en veilig.  Hier buite, uitgelewer aan die elemente en die honger, gaan die dood hulle gewis een van die dae kom haal.  Versigtig sluip hulle nader.  Hulle voel die hitte van die vuur, die veiligheid van die groothuis, die liefde van die man met die sagte stem.  Die angs van nêrens behoort vir ewig verby.

Kop op die pote maak die wyfie haar oë toe en dink aan haar telge.  Waar dwaal hulle rond?  Gee iemand vir hulle ook ‘n bietjie kos? Sal hulle ook weer eendag die hitte van die vuur aan hulle lywe voel?


  

No comments:

Post a Comment