Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.~ C.J. Langenhoven



Thursday, June 9, 2011

AANGENAME KENNIS MNR. DIE PRESIDENT


Johannes heel regs
Op 31 Maart was ons Republiek 50 jaar oud en was daar in die koerant onder meer ‘n foto van ons eerste Staatspresident, C.R. Swart wat my laat terug dink het aan die dag toe ek hom ontmoet het...

Dit was 1964 en ek was 10 jaar oud.  My oudste broer, Johannes (Smiley) wat ‘n vlieënier in die lugmag was, is daardie jaar gekies om diens te doen as die Aide-de-Camp vir president Blackie Swart.  Toe kom daar op ‘n dag ‘n uitnodiging van die president aan ons gesin om Sondagmiddagete by hulle te geniet.  ‘n Groot eer vir ons familie!

My broer het gesê dat wanneer ons aan hom voorgestel word, moet ons sê: “Aangename kennis Mnr die President”, en hierdie rympie is deeglik in ons koppe ingedril!  My ma het gesê dat dit maak nie saak wat hulle voor ons op die tafel sit nie, ons sal onder GEEN omstandighede sê: “Ek eet nie dit nie”, of “Ek is nie honger nie”, of “Wat is dit”? nie!

Op daardie stadium het my pa by die Standerd Bank in die Kaap gewerk.  Gewoonlik het hy soggens vroeg met sy Raleigh fiets stasie toe gery en dan Kaap toe met die trein.  Behalwe wanneer daar ‘n Kaapse winterstorm was.  Dan het hy die taxi gebel en het Mnr Dan hom met sy swart Mercedes stasie toe geneem.  Toe die spesiale uitnodiging kom, is daar besluit dat die ‘two-tone’ groen Austin Cambridge is te klein en nie grênd genoeg vir die okkasie nie en is Mnr Dan en die swart Mercedes bestel om die tog Kaap toe aan te pak.

Op die dag is almal vroeg oggend pienk geskrop, in ons kisklere uitgedos, ek en ma natuurlik met ons hoede op (en sy seker met handskoene ook!) en soos sardientjies ingeprop in die Mercedes.  Baie opgewonde en senuweeagtig is ons laaste lesse in goeie maniere en korrekte optrede in die motor op pad Kaap toe in ons koppe ingedril! 


Daar gekom het my broer ons eers op ‘n toer deur die imposante woning en die pragtige tuin geneem. Waarna ons tjoepstil in die sitkamer gaan sit en wag het, met instruksies dat almal moet opstaan wanneer die president inkom. Toe hy inkom is almal van groot na klein aan hom voorgestel en het ek ook my kans gekry om, “aangename kennis Mnr die President” te sê!


Voor ete het Mev. Nellie Swart ons na ‘n spesiale kleedkamer geneem, waar die vrouens hulle hoede afgehaal het.

Aan tafel het die twee Aid-de Camps op die punte gesit, die president in die middel van die tafel, my ma, ek en ander vroulike gaste langs hom, sy vrou oorkant hom en my broers en ander manlike gaste langs haar.

Toe kom die voorgereg en ek kan net dink hoe my ma moes gestres het, want dit was ‘n halwe pomelo met ‘n kersie op, iets wat haar kroos nog nie voorheen gesien of geëet het nie!  Gelukkig het tannie Nellie almal baie op hulle gemak laat voel en het die kelners nie die kinders te lank laat stoei met die pomelo nie!  Toe was dit skaapboud van die Swarts se Vrystaatse plaas, wat tannie Nellie self gestop het. My ma moes seker baie verlig gewees het toe ons dit sonder te veel skade en skandes deur die ete gemaak het!

Daar was egter een verwoestende nadraai van hierdie ete!  Daardie jaar het ek nie ‘n seël vir my Sondagskooldiploma gekry nie en is ek na die diplomaplegtigheid huil-huil huis toe.  Die Sondagskool meneer het gedink hierdie verskoning van ‘ons het by die president geëet meneer’ is darem te dik vir ‘n daalder!!! 

PS:  die worshond op die foto het destyds saam met my broer by die president gewoon, maar is later aan ons gegee omdat hy ‘n bietjie skade aangerig het en goed stukkend gekou het.  

4 comments:

  1. Wat 'n fantastiese stukkie om te deel - en watter heerlike herinnering om op te dis.

    ReplyDelete
  2. Marlene Van Jaarsveld Ai Sonja nou so lekker gelees hieraan en onthou Johannes so goed!!
    June 9 at 2:51pm · Unlike · 1 person

    Georgina Oliver-Hancock Hi Sonja het nou net lekker gelees en wonder net of die smiley wat ek indie lugmag geken het dieselfde smiley kon gewees het. My eerste man was 'n vlieenier in die lugmag..het jy miskien 'n foto?
    June 9 at 3:31pm · Unlike · 1 person

    Lynette Knott Lekker gelees......dankie Sonja!
    June 9 at 4:01pm · Unlike · 1 person

    Kobus Victor Ek het gaan loer en dit baie geniet. Skitterend. Lekker aand vir julle.
    June 9 at 4:21pm · Unlike · 1 person
    Sonja van Rhyn Georgina my broer Smiley is al in 1969 oorlede in 'n vliegongeluk by Pietersburg. Dis hy heelregs op die foto by die president.
    June 9 at 7:30pm · Like · 1 person
    Sonja van Rhyn Dankie Kobus! Lees baie van jou lekker stories ook. Lekker naweek
    June 11 at 11:57am · Like

    Christine Appel Kosbaar, Sonja! het so lekker gelees! Ja jou boet Smıley ıs ook gans te joınk oorlede!
    June 11 at 2:05pm · Unlike · 2 people

    Ben Stander Ja Kobus dit was groot verlies vir hele familie, maar hy het eerste aan ander gedink alvorens aan homself
    June 13 at 7:59am · Unlike · 2 people

    ReplyDelete
  3. Ietwat laat maar ek wil nog byvoeg: Johannes en sy vrou Georgina het 'n spesiale vriendskap met my ouers gehad en so is ons gesin ook genooi om na die pragtige tuine te gaan kyk.

    Ek onthou nog die opgewondenheid toe ons in die grys ou chev by die groot imposante hek stilhou.
    Is dit nou Groote Schuur of was ons dalk op ander plek? Jou foto's lyk soos ek die tuin/huis onthou en dus vir my baie kosbaar. Ons is egter nie genooi vir lunch saam met die president..eish..
    Dalk kan jy vir ons skryf van die vliegongeluk waarin Smiley so ontydig weg is..

    ReplyDelete
  4. Anchen die Eerste Minister het destyds in Groote Schuur gewoon en die President in 'West Brooke', langsaan Groote Schuur.

    ReplyDelete