Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.~ C.J. Langenhoven



Wednesday, May 16, 2012

DIE ANDER MAN(S) IN MY LEWE


My man het hom lankal daarin berus dat hy my moet deel.  My kinders ken hom goed, want hy is ‘n gereelde besoeker by al die groot geleenthede in ons lewe. Tydens Kersfees, Paasfees en verjaardae maak hierdie buitelander altyd ‘n draaitjie hier.

Gister het hierdie lang, donker Switser onverwags hier opgedaag vir ‘n welkome besoekie, hierdie keer elegant geklee in silwer.  Gisteraand het ek liggies met hom geflankeer, maar vanmiddag, wanneer manlief gholf speel, beplan ek iets meer intiem vir ons tweetjies. In die slaapkamer gaan ek my stadig laat verlei deur hom.  In die bed, met ‘n boek, gaan ek hierdie minnaar, wat nooit teleurstel nie, se silwerpakkie afskil en hom stadig, blokkie vir blokkie op my tong laat smelt...want jy, Mnr Lindt, is ‘n man so na ‘n vrou se hart!

Maandag gaan die liewe Lilian, wanneer sy my help aantrek, my weer aanpraat oor wat sy ‘Mamma-se-tjokkelit-boude’ noem!  Vroeërsdae kon ek ‘n gesonde balans handhaaf tussen hierdie sjokolade passie en my ander passies; beweging van verskeie soorte.  Maar, o wee, daardie balans is nou versteur; wanneer ek nie in die rystoel sit nie, lê ek in die ‘lazygirl’!



My kop dink nog ek is daardie vrou waarop my vriendinne jaloers was omdat sy skynbaar enigiets kon eet sonder om vet te word.  Die geheim, girls, is dat sy ‘n hoë verrigting enjin gehad het wat baie brandstof gebruik het; maar daardie Ferrari is nou ingeruil vir ‘n krokkerige ou tjorretjie wat sy tyd in die garage om staan.  Baie ekonomies op brandstof, maar met ‘n voorliefde vir die hoë oktaan petrol!

Die afgelope tyd moes ek van baie dinge afskeid neem, maar ek klou egter hardnekkig vas aan hierdie laaste passie, aangemoedig deur my vriendin se leuse; “Die lewe moet kwaliteit hê”!

Ek probeer my bes om die gewoonte ten minste af te skaal.  Vra vir manlief om asseblief geen sjokolade in die week hier in te dra nie, want as ek dit eers gesien het kan niks hierdie sjokolis keer nie.  Ek neem my gesondheidskonsultant se raad ter harte en laai een 85% kakao Lindt blok in die trollie, terwyl ek vinger swaaiend vir manlief verduidelik dat hierdie dun, anti-oksidant gevulde blokkie in ons altwee se behoeftes vir die week moet voorsien.  Ek probeer my bekeer…maar ai, die vlees is swak en ek faal keer op keer!

Die verleidings in die kassier-ry flankeer met my…die Belg, Mnr Côte d’Or maak ogies vir my– saam met Mnr Lindt kan ons in ‘n stoute ‘ménage et trois’ ontaard!  En gooi nou die Italianer, Mnr Ferrero Rocher hierby en ons het sommer ‘n lelike (heerlike) orgie!

Dan is daar natuurlik my ou staatmaker; Mnr Cadbury.  Altyd bereid om my in sy arms terug te neem wanneer my beursie my nie toelaat om in die hogere geselskap van die ander menere rond te flerrie nie.  Altyd beskikbaar vir my; net ‘n vinnige paar tree tot by die hoekkafee!



NS: Dankie Linette vir die ekstra lang, silwer geklede Meneer al die pad van Amerika!  Niggie Marlene wanneer jy Mnr Lindt daar in Switserland raak loop, dra asseblief my liefdegroete aan hom oor!

2 comments:

  1. Ek sien baie uit na die van Rhyn kesfees ontbyt die jaar saam met julle en Lukasz... hello Mnr Quality Street :) x

    ReplyDelete
  2. Loubser ek het amper vergeet van my geliefde Mnr Quality Street! En sien baie uit om dit saam met jou en Lukasz op Kersoggend te geniet! xx

    ReplyDelete