Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.~ C.J. Langenhoven



Sunday, May 29, 2011

SONDER BRIEKE


Vanoggend het die slapeloosheid my weer aan die dink gesit oor hierdie rit waarop ek my bevind en ek het gewonder op watter stadium het hierdie motorkar se brieke ingegee?  En in retrospek het allerhande beelde en scenarios na vore gekom en ek kon nie help om te wonder of ander mense dalk iets gesien het voor ek daarvan bewus geword het nie.  Hoe lank baklei ek al op ‘n onbewustelike vlak teen hierdie siekte?(dis nou MSA wat iemand onlangs beskryf het as “so ‘n vark van ‘n ding!”)  Hoeveel kompenserende aanpassings het my liggaam gemaak en wanneer het my liggaam die stadium bereik wat hy nie meer kon aanpas nie?  Wanneer het hierdie ou motorkar die kruin van die bult bereik en die afdraend aan die anderkant begin vat sonder brieke? 

En ek dink terug aan my en Susan se lekker oggendstappe teen Helderberg uit, of seelangs tot by AECI se draad. Susan kan jy onthou dat ek vir jou gesê het dat my brieke nie meer so lekker werk wanneer ek ‘n steil afdraend stap nie?  Ek het toe met my stapskoene begin stap om beter traksie te kry en te keer dat ek gly.  Ek het my verwonder dat kinders so sonder brieke teen ‘n afdraend kan af hardloop sonder om te val en het maar gedink my briekloosheid is deel van die oudword proses.  Kan jy onthou dat my linkervoet effens begin sleep het wanneer ek moeg was?

Met stap van die Walvisroete in 2007 het alles verkeerd gegaan het.  Die verskriklik pyn in my knie en my tone wat so gekneus het dat die dokter die toonnaels moes aftrek.  En toe gaan koop ek maar groter en ‘beter’ skoene en durf alleen die Helderberg uit om die Watsonias te gaan kyk.  Daai dag het ek dit nie ver gemaak nie.  Twee jong mans het verby gekom en gevra of ek okay is.  Of hulle my kan help.  Wat het hulle gesien?  Ek het maar omgedraai en gedink my tone het nog hersteltyd nodig en dit sal anner dag weer beter gaan.

Ek het al hoe meer gewig verloor totdat almal begin dink het ek het anoreksia!  En tog het ek nie minder geëet nie.  Dalk het dit net eindeloos meer energie geneem om dieselfde aksies uit te voer as voorheen? Of was dit maar ‘n vroeë simptoom van die siekte?

September 2007 kry ek fisioterapie na die verwoestende stap van die Walvisroete en Carla, die terapeut, sê sy wil met my praat.  Sy ken my al lank en het my al baie in aksie gesien in die gym en daar skort iets.  Die manier waarop ek op die oefenfiets klim, die feit dat ek tou opgooi in die stepklas, sy het my sien stap in die mall en…iets lyk nie reg nie.  Ek moet ‘n neuroloog gaan sien.  Ons het eers gedink Carla verbeel haar allerhande dinge en sien spoke.  Dis maar my voet wat nog nie herstel het van die operasie 10 maande gelede nie.  En later, toe dinge erger word, het ons gedink dat Carla se suggestie dat iets verkeerd is, het met my kop gesmokkel het en nou verbeel ek my allerhande dinge.  Wat het Carla gesien?  Ek is bang om te vra, want dalk het ander mense dit ook gesien.  Was dit dalk net ek wat dit nie kon sien nie?

Kort na my 50ste verjaardag sien ek ‘n advertensie vir dansklasse.  LATIN SOLO.  Latynse danse sonder ‘n metgesel!  Iets wat ek nog altyd wou gedoen het, maar my metgesel kon nooit opgewonde raak hieroor nie.  Johnny het op ‘n stadium ‘n paar lesse saam met my probeer, maar die nr 11 voete wou nie altyd saam speel nie!  Hierdie was ‘n uitdaging so reg in my kraal!  Lesley, die dansinstruktrise, is baie ambisieus en skryf ons in vir eksamens en kompetisies en dit gaan wonderlik goed.  Maar wanneer ek die vinnige jive moet doen, maak ek gedurig my skoene nat om te keer dat ek gly (nat skoene om nie te gly nie sal jy net verstaan as jy ‘n danser is!).  Op ‘n dag begin Lesley net al meer krities raak.  Eers kon ek niks verkeerd doen nie en nou kan ek, volgens haar, niks reg doen nie en is my linkerbeen nooit heeltemal gestrek nie.  Ek probeer nog harder, maar dit wil nie werk nie.  Moeg van al die hard probeer, gooi ek handdoek in en dink ek is seker maar te oud om kers vas te hou by ander jongmense in die klas.

Op ‘n stadium het die gym BOSUS gekry.  Bosu = “both sides up” = ‘n bal wat lyk asof dit in die helfte gesny is met een harde, plat kant en een ronde, sagte kant.  Altwee kante word gebruik om oefeninge op te doen wat die balans verbeter deur die ‘core’ spiere te versterk.  Almal wat my ken sal weet dat nuwe fisiese uitdagings is iets wat ek geniet.  Ek het mos gedans en gymklasse gegee en balans was nog nooit ‘n probleem nie.  Dus het op gewonde uitgesien na Des se eerste Bosuklas en toe is ek die vrotste in daai klas.  Kan glad nie op die ding balanseer nie en Des moet my hand vashou!  Maar ek laat my nie sommer verneder deur dêm halwe bal nie en ek oefen totdat ek dit regkry!  Weereens pas my liggaam aan en en met uiterste konsentrasie kry ek dit reg om baie bekwaam te lyk op die bosu.  Totdat ek op ‘n dag baie hard met die vloer kennis maak en ek begin besef ek is nie in kontrole van “hierdie vark van ‘n ding” nie.

En nou, terwyl hierdie motorkar sonder brieke teen die afdraend af snel, kom ek agter dit is net die tydelike voertuig vir my siel.  My geluk, wat voorheen in ‘n groot mate gewortel was in die sanderige basis van my fisiese vitaliteit, begin nou wortelskiet in baie stewiger grond en my siel groei verby hierdie krokkerige ou motorkar.

PS:  BROKEN DOWN MSA STANDS FOR:

MULTIPLE – more than one
SYSTEM – brain structure that control different functions
ATROPHY – cell shrinkage and loss

(from guide to MSA by MULTIPLE SYSTEM ATROPHY TRUST – www.msatrust.org.uk)

3 comments:

  1. Gesina SpangenbergMay 29, 2011 at 6:49 AM

    Liewe liewe liefste Sonja! Vandat jy my vertel het, het ek ook al vreeslik gedink en probeer dink of ek dit dan nie raakgesien het nie. Maar mens vermoed mos niks en soos jy se, jy is fittness se baas ! Nou, terugskouend onthou ek klein dingetjies, maar jy het daaroor gegrap; ou voet wat nog nie reg is na op nie, en dalk n lar bloeddruk. . . Hoe kon ek ooit so n vark van n ding vermoed ?
    Ek sien jou so min, en as ek wegry is ek elke keer baie bewus van jou sterkte, jou waardigheid en wat n lekker vriendin jy is !
    Baie liefde,
    G

    ReplyDelete
  2. Dankie vir jou mooi woorde Gesina. 'n Mens kan net so sterk wees soos wat die ondersteuning van jou familie en vriende jou toelaat om te wees en deur die krag van die Here. S

    ReplyDelete
  3. Marlene Van Jaarsveld Nou so lekker gelees aan jou griffels. Roep gerus as die ou morotkar enige diens nodig het... ek is HIER!!
    May 29 at 10:29am · Unlike · 1 person
    Sonja van Rhyn Dink ons moet maar verkoop aan die skrootwerf! LOL
    May 29 at 10:31am · Like

    Marlene Van Jaarsveld Nope.. precious metal... te minste op 'n veiling van formaat!
    May 29 at 10:32am · Unlike · 1 person

    Gesina Spangenberg So n ou Griffeltalent !!
    May 29 at 3:52pm · Like

    Loubser van Rhyn Dink aan jou Ma. X
    May 30 at 12:00am · Like · 1 person

    Wendeline Fourie Richards Jy laat 'n mens net weereens besef hoe dankbaar ons moet wees vir wat ons het. Sterkte vriendin!
    May 30 at 9:06am · Unlike · 1 person
    Sonja van Rhyn Dankie almal. x
    May 30 at 9:14am · Like · 1 person

    Jeanne Momberg Nou net jou griffels gelees. So geniet. Jy is 'n wonerlike mens. Sterkte xxxxxx
    May 30 at 4:35pm via Facebook Mobile · Unlike

    ReplyDelete