Opgedra aan my vriendin Ilse, wie se ma onlangs oorlede is
Die afgelope tyd lees ek gereeld in ‘Die Burger’ iets oor ma’s.
So was daar onlangs in foto van ‘n seekoei (vermoedelik ‘n ma), wat eers ‘n wildebeeskalf en toe ‘n sebravul sagkens deur die onstuimige vloedwaters van ‘n rivier na veiligheid gehelp het.
Maureen Joubert vertel in “Van Alle Kante” van ‘n olifantkoei, die matriarg van die trop, se verwoede reaksie op die klik van ‘n kamera. Dadelik gereed om op enigiets af te storm om haar trop te beskerm.
En ek dink terug aan ons staptog in die Krugerwildtuin toe ons op leeus afgekom het. Die oomblik toe die gids hoor daar is kleintjies in die trop, was sy woorde: “We’re out of here!”. Almal weet tog met ‘n leeuma met welpies soek jy nie moeilikheid nie!
Hierdie dierema’s laat my toe dink aan ons mensma’s. Aan ouma Alie, toe al diep in die negentig, wat met haar hand oor pa Loppie (toe reeds afgetree) se rug streel, en vra: “Het jy ‘n frokkie aan Loppie? Die wind is so koud vandag.” En dié vraag laat my wonder of ‘n ma ooit ophou om ‘n ma te wees? Kom daar ‘n tyd wanneer jy dit nie meer nodig ag om jou kinders teen die aanslae van die lewe te beskerm nie? Hou jy ooit op om jou oor hulle te bekommer?
En toe dink ek aan die ma’s wat ek ken. Die vriendin wie se huis altyd oop is vir haar kinders se vriende. Wat partykeer ander mense se kalfies en vulletjies deur die rivierwaters help. Haar hart is so ruim en haar moederinstink se sterk, dat dit verder uitkring as haar eie kroos. En tog is haar liefde sterk genoeg om ‘n bietjie “tough love” toe te pas as dit nodig is.
In vanoggend se BURGER is daar ‘n artikel met die opskrif, “Ma verloor stryd vir seun in hoogste hof ”. Dit is die storie van Patricia Gerber van George, wat “tot die bitter einde” in die konstitusionele hof geveg het, om haar seun, wat tronkstraf uitdien vir dwelmsmokkelary onder haglike omstandighede in Mauritius, oorgeplaas te kry na ‘n Suid-Afrikaanse tronk. En ek haal my hoed af vir hierdie ma en die passie waarmee sy vir haar kind baklei, ten spyte daarvan dat sy op ‘n stadium tot die baie moeilik besef moes kom dat hy verkeerd gedoen het. Sy het hom vergewe en wil nog steeds net die beste vir hom hê!
Geen boek kan jou voorberei vir dit wat op jou wag as jy gaan ma word nie. Die ongelooflike ervaring van geboorte, die angs wanneer hulle siek is, die vreugde wanneer hulle presteer, die vrees dat hulle sal seer kry. Moederskap is beslis geen louwarm ervaring nie!
Die kinders neem jou op ‘n reis. Saam met hulle kyk jy Disneyflieks, stap in die veld, bou sandkastele, bak koekies, roei op riviere, hou seevakansies, speel Monopoly, vang vis, eet roomys, besoek die dieretuin, ry mallemeule en rollercoaster. Jy maak hulle groot en hulle maak jou weer kind.
Jy probeer hulle opgevoede mense maak en in die proses word jy opgevoed en volledig mens. Jy probeer hulle leer van die lewe en die proses word jou leerskool van die lewe.
Hulle word groot en verlaat die huis en terselftertyd word jou ma en skoonma ouer en geleidelik, soos die tyd aan stap word hulle al hoe meer afhanklik van jou totdat jy op ‘n dag besef die rolle het nou opgeruil en jy is nou die versorger en hulle is die ‘kinders’. Hierdie proses is nie ‘n maklike een vir enige van die partye nie, want ‘n ma wil instinktief altyd die versorger wees en nooit die versorgde nie en andersom. Dit is hierdie onwilligheid aan albei kante om rolle te ruil wat ek nou eers mooi verstaan. Uiteindelik verstaan hoekom daar in die laaste jare saam met my ma partykeer duwweltjies in die pad was.
Hierdie verstaan het nou gekom saam met my siekte. Die siekte wat veroorsaak dat ek my plek as ma en vrou van die huis nie kan volstaan soos voorheen nie. Ook omdat ek nou meesal iemand nodig het om my te help versorg.
Johnny het ‘n paar keer vir my gevra of hy nie vir Chris moet vra om na my te kyk wanneer hy gaan gholf speel nie en ek het dit elke keer hewig teen gestaan, al behels dit op hierdie stadium eintlik net die maak van ‘n koppie tee, miskien ‘n toebroodjie, die aandra van ‘n glas water ens. Chris het een aand gevra of ons kan muffins maak en waar ek voorheen altyd gesorg het dat ons bestanddele het vir so iets en gesorg het dat daar iets lekker in die huis was, was daar nie nou nie meer bestanddele of iets lekker om aan te knaag nie. Dit was weer in die vroeë oggendure wat ek tot die slotsom gekom het hoekom hierdie onbenullighede my so pla; ek wil nog sy ma wees, die een wat sorg vir muffins en beskuit en ek sien nog nie kans om hom in die rol van die versorger te plaas nie.
Soos die mediese wetenskap vooruitgaan en mediese sorg verbeter, leef die mens al hoe langer en gaan ons dalk ‘n toekoms tegemoet waar die aantal jare wat die kinders die versorgers van die ouers is, dalk langer gaan wees as wat die ouers die versorgers van die kinders is! Dokters weet julle wat julle aan die kinders doen! Ouers wees gaaf met julle kinders, want hulle kies julle aftreeoord!
a child - a mother - a timeless story of love
ReplyDeleteLoubser van Rhyn Ma, op die stadium is jou advies baie meer waardevol as koekies bak so moet asb nie wroeg daaroor nie - jy sal altyd Ma wees ;)
ReplyDeleteJune 6 at 7:06pm · Unlike · 2 people
Gesina Spangenberg Janee, Loubser, ek stem !!
June 6 at 11:54pm · Unlike · 1 person
Sonja van Rhyn :))) Dankie julle! Die drang om dinge soos voorheen te doen oorval my partykeer nog.
June 7 at 11:06am · Like · 1 person
Anchen Van Der Merwe Dankie vir hierdie kosbare lewenswysheid, Sonja. Ja, en ons seuns-ma's is omtrent geslyp en glad geskuur, né.. Maar jy moet ook darem nie vergeet dat ons "baby boomers" generasie ook luier geword het vir bak en liewer blog en facebook. So is my koekies net van Woolies en is daar nooit tuisgebak wat regstaan wanneer die manne hier instap nie.. So anders as my ma wat ALTYD vol blikke gehad het :)
June 7 at 9:17pm · Unlike · 1 person
Sonja van Rhyn Dankie Anchen - jy sus my gewete!
June 8 at 9:27am · Like
Marlene Van Jaarsveld So lekker gelees hieraan Sonja van Rhyn. Ek onthou so goed hoe jou ma ook gebak het! Ek het ook al lankal ophou bak... so moenie alleen voel nie :-)
June 8 at 1:18pm · Unlike · 1 person