Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.~ C.J. Langenhoven



Sunday, July 17, 2011

KANTELTAFEL OF ROLLERCOASTER?

                                                    

Die afgelope paar maande veroorsaak lae bloeddruk chroniese moegheid, lighoofdigheid en dreigende floutes.  Veral wanneer ek lank stil sit.  Hierdie lae bloeddruk of posturele hipotensie is ‘n simptoom van MSA, sowel as ‘n newe effek van die medikasie wat ek gebruik.  Omdat hierdie dreigende floutes  my sosiale lewe beperk en aktiwiteite soos bv haarkappery, fliek en lang sosiale kuiers, etes en kerk moeilik maak, praat ek met die neuroloog daaroor en op sy aanbeveling spreek ek ‘n kundige op die gebied van floutes, duiseligheid en lighoofdigheid. 

Die afspraak duur amper twee uur waartydens 'n volledige mediese geskiedenis geneem word.  Aan die einde van die konsultasie reken die kundige dat my simpatiese senustelsel, wat nie behoorlik werk nie, die oorsaak kan wees van my lae bloeddruk.  Hy beveel aan dat ons ‘n kanteltafeltoets doen om die werkinge van die simpatiese senustelsel te toets en dat ons dan met kanteltafelterapie weer vir “my op my voete sal kry”.  My reaksie daarop was ook ‘n baie duidelike ongelowige kyk in sy rigting!  Waarop sy woorde was; “lyk my jy glo my nie”! 

Uitgeput, maar in ekstase dat daar tog ‘n bietjie hoop is, is ek daar uit.  Maar daardie nag kan ek nie slaap nie.  Het ek nou reg gehoor?  Is dit moontlik?  Moenie nou vals hoop kry nie, die teleurstelling sal te groot wees.  En in my kop maal ek deur die ellelange konsultasie.  Woord vir woord.  En ek kom af op dinge wat moontlike misverstande kon veroorsaak.  Op die vraag wat makeer ek?  Watse siekte het ek?  Antwoord ek baie duidelik en stadig;  “MULTIPLE SYSTEM ATROPHY” Heelwat later tydens die konsultasie vra hy;  “Waar het jy die siekte”? en ek; “wat bedoel u waar”? Hy; “In die brein of in die rug”? En ek ( nou paniekerig, want my rug is altyd seer);  “ek is nie bewus dat ‘n mens dit in jou rug kan kry nie?!”  Ek vermoed daar was ‘n misverstand. Het die prof dalk gedink ek het MULTIPLE SKLEROSE?  Heeltemal ‘n ander siekte, wat ek vermoed in die brein en die rug voorkom.  Het sy brein  gedoen wat baie ander mense se breins doen?  Toe ek die woord “MULTIPLE” sê, toe rond sy brein rond dit af na SKLEROSE. 

Miskien sal ek nie weer op my voete kom nie, maar dalk is daar tog hulp vir die lae bloeddruk en van die ander simptome wat veroorsaak word deur die sogenaamde disfunksionele simpatiese senustelsel? 

Ek moet oor 3 weke terug vir die kanteltafeltoets.  Vastend, nil per mond vanaf die vorige aand.  Ek begin wonder hoekom vastend?  Gaan die ding so woes kantel dat ek naar word?

Teen die tyd dat ons die oggend 8.30 daar instap, het hierdie kanteltafel in my kop al verander in ‘n rollercoaster!  Hulle stel my gerus.  Die rede hoekom ek vastend moet wees, is omdat ‘n groot volume van die bloed na etes na die dermkanaal gaan en dit affekteer die bloeddruk.  Ek word met bande aan die kanteltafel vasgemaak, kry ‘n verskeidenheid van elektrodes op verskeie plekke, bloeddrukmeter aan die linkerbo-arm, pols/bloeddrukmeter aan die regter wysvinger.  Eerste 10 minute lê ek plat om ‘n basislesing te kry en word daar een keer aan die regterkant van my nek gevryf en een keer aan die linkerkant (daar is reseptore in die nek wat help om die bloeddruk te beheer).  Dan word die tafel getilt tot op 70 grade vir ongeveer 20 minute, waartydens die vryf-in-die-nek prosedure weer uitgevoer word. Ek begin sweterig voel (voel altyd so voor ek flou word), maar byt vas.  Na 20 minute word my linkerhand in ‘n beker koue water gedompel vir 1 minuut.  Skielik voel ek erg benoud, die sweet loop in straaltjies teen my rug af en ek is op die punt of flou te word.  Blykbaar is dit presies die reaksie wat hulle probeer ontlok het.  My hartklop daal na 33pm, bloeddruk 61/54 en al die ander lesings verander drasties. 

Afgedroog en aangetrek, met ‘n koppie tee en iets om te eet, word ek ingelig dat my simpatiese senustelsel definitief op die koffie is en die kuur hiervoor is doodeenvoudig:  Gebruik ‘n kanteltafel twee maal vir dag 10 minute en/of lig die kopkant van die bed met 2 bakstene.

Opgewonde dat dinge kan verbeter, word ‘n vriend opgekommandeer om houtblokke te maak om die bed te lig.  Nou is die bed so hoog dat ek amper nie kan opkom nie, maar ek slaap moedig voort.  My brandende voete (nog ‘n simptoom) raak al hoe erger van die afdraend slapery.  Toemaar, troos ek myself, miskien as die simpatiese senustelsel eers sy werk reg doen, dan sal dit weer verbeter.  Twee weke gaan verby en niks het nog verbeter nie.  Die fisioterapeut bel rond op soek na ‘n kanteltafel waar ek vir 2 weke kan eksperimenteer om te kyk of dit werk.  Ek moet elke oggend 9 uur daar wees en ek reël vervoer.

Die idée is om stadig, ‘n paar grade elke paar minute, vanuit ‘n lêende posisie te kantel tot by 70grade en dan so te staan vir ‘n paar minute.  Ek vorder egter nie verder as 50 of 60 grade nie, dan raak ek lighoofdig, voel of ek wil flou word en moet hulle my laat sak.  Teen die einde van die week is daar geen verbetering nie en is ek uitgeput van elke dag se ekskursie na die kanteltafel.  Die eksperimentele terapie het nie gewerk nie en was ten koste van my daaglikse oefeninge, met gevolglike agteruitgang in my spiersterkte.

Wanneer ek nou terug dink aan hierdie desperate poging om beter te word, besef ek wat daardie oomblikke van hoop vir my beteken het.  Ek het die lewe weer deur rooskleurige brille bekyk en dinge aangepak waarvoor ek deesdae gewoonlik nie kans sien nie.  Dit is hierdie hoop wat ek weer op ‘n manier moet vasvang.  Ek moet my oë gerig hou op die Lig doer aan die einde van hierdie tonnel………  dis waar my hoop nou lê.

Intussen het die neurofisioterapeut en ek besluit om elke dag te staan en/of te stap, hou baie voordele vir my gesondheid in.  Soggens, voor Johnny werk toe vertrek, stap ons twee maal deur die huis met die ‘walker’.  Johnny agter my, met sy hande op my heupe om te keer dat ek val, en die twee honde agterna soos eendjies in ‘n ry!


3 comments:

  1. Hierdie kanteltafelblog laat ons met nuwe waardering kyk na als wat mens so vanselfsprekend aanneem - en besef hoe kompleks ons ou liggaam kan wees :) Wonder of daardie "kundige" al self ooit probeer hang het tot by die 70gr gmmff..

    ReplyDelete
  2. Christine Appel Ek weet eintlik nie wat om te sê nie... Mamma sê altyd daar is 'n pad wat mens alleen loop. Jy is beslis op so 'n pad. ons kan net loer en waarneem en probeer bemoedig - maar jy loop die pad...
    July 20 at 11:06pm · Unlike · 1 person
    Sonja van Rhyn Al die woorde van bemoediging help baie. En ek is nie alleen nie, Hy stap elke tree saam
    Thursday at 8:15am · Like

    Wendeline Fourie Richards Dit is wonderlik om te weet dat Hy die pad saam met ons stap, wat ander nie saam kan stap nie. Maar ek glo ons wat vir jou bid stap op so 'n manier die pad saam met jou. Jy is gedurig in my gedagtes.
    Thursday at 8:55am · Unlike · 1 person

    Christine Appel Dis al wat enige van ons in enige situasie laat vorentoe gaan - die feit dat Hy saam stap, en ons self dra waar ons nie kan stap nie
    Thursday at 8:58am · Unlike · 1 person

    ReplyDelete
  3. Anchen ek waardeer daardie ondersteunende 'gmmff' baie! Maar die kantel was darem met die kopkant boontoe!

    ReplyDelete