Johnny beplan om ‘n paar dae weg te kom van werk en stres en ek moedig hom aan want ek besef dat my
daaglikse versorging op sig self ook by dra tot sy stres.
Maar hoe nou gemaak
met my wat net nie meer aan my eie genade oor gelaat kan word nie? Lilian help tot so 4 – 5 nm en dan klok sy
uit. Die versorger wat ons al gebruik
het, kan ek
net in klein dosisse hanteer. Hier teen
die derde aand is my verdraagsaamheid dun geskuur deur haar onophoudelike
gebrabbel oor haar ander pasiënte (saans is my uithou vermoëns al tot die
uiterste beproef deur rugpyn, deur gesitte boude en brandende voete van
perifirele neuropatie).
My getroue vriendin
Susan se brawe offer om vir die hele week versorger te wees, word dus met groot
dankbaarheid en verligting deur Johnny en my aanvaar. Nou kan
hy met ‘n geruste hart ontspan in die wete dat hy my agterlaat in die
liefdevolle sorg van ‘n bekende. Maar ek
bespeur tog ‘n sweempie van vrees by my vriendin vir hierdie vreemde situasie
waar ek nou die pasiënt en sy die versorger is…
Die vrees is egter
blitsig uit die weg geruim deur Susan se plat op die aarde persoonlikheid, wat
haar by enige omstandighede, met vreugde en humor, kan laat aanpas.
En ek dink terug
aan die baie kuiers en vakansies saam met haar en Frans en hulle gesin en die
herhinneringe laat altyd ‘n glimlag op my gesig verskyn. Susan en die Albertyns sien altyd die snaakse
kant van enige situasie en ook die moeilike uitdagings word prontuit in die
gesig uit gelag! Al het die detail van
party vakansies al vervaag, onthou ek dat kuier saam met hulle altyd vol pret
was, en geleenthede om histeries te lag, volop. Haar kinders noem haar nie verniet “Monkey”
nie!!
Hierdie wekie saam
met jou het ek weer ‘n paar lesse geleer uit die manier waarop jy dinge
doen. Ek het lank gedink oor watter
soort blom jy sal wees, maar jy, Susan, is soos ‘n bergstroom. Soos ‘n
bergstroom vloei jy met gemak om die rotse van die lewe, die sonskyn vasgevang
in jou kabbelende waters. Soet waters
wat almal verkwik wat daarvan drink.
Gou en gemaklik pas
jy aan by my roetine en draf dit met vreugde kaf en bederf my dat ek soos ‘n
koningin voel. Met humor word ek tot
‘queenie’ herdoop. Saans stap jy en
buurvrou met met die hondjies en kort voor lank kom Pat ook lag-lag terug en
het jy suutjies ook in haar hart ingekruip!
Op die vooraand van
jou vertrek kook jy vir oulaas ietsie vir ons en toe ek vra watter musiek moet
ek speel, antwoord jy, “iets jollie”! Ek
soek die ipod deur verby Mozart en Rachmaninoff, Ella Fitzgerald en briek by
Elvis. Maar ek sien jy is nog nie
heeltemal tevrede nie en gaan koop gou aanlyn
Les Javan se “Met jou aan my sy”, die liedjie wat ons al heel week
luister. Met die wonderwerke van
tegnologie is dit woepswaps op my ipod.
Spontaan begin jy in die kombuis skappiedôl, riel en namastap en wonder
hardop of daar nie êrens in jou genetiese verlede dalk ‘n boesman of ‘n nama
was nie, want hierdie musiek praat met jou lyf!
My aardse en
praktiese maatjie laat my agter met ‘n stoep vol blomplante, ‘n veiliger manier
om van die rystoel in die lelike lazyboy te kom, die halwe bottels
versandsuikerde heuning saam gesmelt in een pot en my nuwe broeke se some almal
afgesteek en saam met jou huis toe om gesoom te word.
Die laaste oggend
saam met jou is ek vol gemengde gevoelens;
baie bly dat my bokkie op pad terug is, maar weemoedig om van jou
afskeid te neem na ‘n week van vreugdevolle saam wees waar onnodige woorde
oorbodig is.
Ons drink ‘n koppie
tee, speel ons jollie liedjie en jy skappiedôl vir oulaas deur die kombuis…
En ek sien die
vreugde is in jou, kom maklik uit jou en versprei na die mense om jou. Ek gaan daai vreugde in my soek en dan gaan
ek onbevange skappiedôl op ons jollie deuntjie!
No comments:
Post a Comment