Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.~ C.J. Langenhoven



Wednesday, October 27, 2010

DIE MOOIGEIT IN ONS AGTERPLAAS






(Titel voorgestel deur Marlene van Jaarsveld!)

Lank, lank gelede kon kinders nog vry, sonder vrees en ongebonde deur die strate van Somerset-Wes rondry met hul fietse.  Toe al het ons met ons fietse na die Helderberg natuurtuin gery en daar onder die skadu van ‘n boom gesit en klets.


Dit was waar ons die eerste keer ons iets soos ‘n silwerboom gesien het en ons het die boom grootoog bewonder.  Pragtige slanke silwer blare met fyn haartjies wat almal in een rigting lê.  En as jy dink niemand kyk nie, dan pluk jy vir jou enetjie en bêre dit veilig in jou Bybel om droog te word. 

Toe al het hierdie plek ‘n spesiale plek in my hart gekry. ‘n Plekkie hier in ons eie agterplaas waarheen jy sommer gou-gou kan vlug vir ‘n bietjie alleen-tyd tussen die proteas en die suikerbekkies.



Baie het ons met die kinders daar gaan stap.  Eers het hulle beurte gemaak op pa se skouers en later het hulle vir ons hand gegee teen die steiltes op! In die koelte van die klofie by die waterstroompie het ons broodjies geëet en van die yskoue bergwater uit ‘n bakhand geslurp.

‘n Paar weke gelede raak ek vroegoggend wakker en ek kan sommer aan die  vrolike getjirp van die voëltjies hoor dat die somer op pad is.  Dis toe dat die heimwee, oor die berg wat ek nie meer kan klim nie, en die blomme wat ek nooit weer sal sien nie, my tref.  Maar ook nie vir te lank nie!  As daar paaie daar bo is, moet daar mos voertuie kan ry! Sal iemand ‘n plan kan maak? Wie sal my kan help?


Was dit toeval dat ek die volgende dag ‘n natuurbewaarder van die Helderberg natuurtuin in die mall raak geloop het?!!

Gister was ek daar!  Die son het geskyn, die Watsonias (en baie ander blomme) het in volle glorie geblom en my siel het gejuig!



3 comments:

  1. Spesiaal! So vol geluk, mooi herinneringe en die warmte van somersonskyn!

    ReplyDelete
  2. Die berg glimlag vir jou Sonja .. hou van die kiekie met die seuns en Johnny in van lank terug. Die blog kry lyf!

    ReplyDelete
  3. Lynette Knott Lekker Sonja.....bly die somer en blomme het jou weer laat skryf!
    October 28, 2010 at 11:44am · Like

    Christine Appel Jou skrywe, heet soos die voriges, weer eens lekker gelees! Dankie vir die heerlike warmte daarvan! Ek het die aanhaling onderaan jou blog op my muur gaan graffiti.
    October 28, 2010 at 2:03pm · Like

    ReplyDelete