Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.~ C.J. Langenhoven



Saturday, November 13, 2010

WANNEER ASPOESTERTJIE IN ‘N PAMPOEN VERANDER…







Daar is deesdae ‘n nuwe soort stres in my lewe.  Iets waaraan ek voorheen nooit eers gedink het nie en waaroor ek nou wakker lê in die nag.

Hoe lyk die plekke waarheen mense my nooi?  Is daar trappe?  Sal daar plek wees in die badkamer vir my en die walker of die rystoel?  Hoe lyk so-en-so se huis?  Ek het al so baie daar gekuier, maar het nooit voorheen eers opgelet of daar trappies is nie.  Het maar net geloop sonder om te dink en nou moet ek dink en beplan.



Daai restaurant waar ons altyd so lekker geëet het se tafel is nou te laag, die tafels is te na aan mekaar om tussendeur met ‘n rystoel te vleg, die toilet se deur maak na binne oop…


Vir die buitelug teater sal ek ‘n 4x4 rolstoel met buitengewone vermoëns moet kry!  Die ander teaters miskien dalk nog?  Waar sit mense met rystoele in ander teaters?  Hoe gemaak met die trappe by die ingang?  Gebruik mens ‘n ander ingang?  Die flieks het in die agterste ry oop plekke vir rystoele, maar nie al die flieks speel in ‘n teater met ‘n rystoel tekentjie nie….net party….partykeer….


Van ons beste vriende se huise is moeilik toegangklik. Op verskillende vlakke gebou.  Moeilike trappe met rondings en diep trappe.  Dis een ding om daar in te kom wanneer die son nog skyn, maar heeltemal ‘n ander ding wanneer jy donker nag daar moet uit, wanneer die pille uitgewerk het. 

Hierdie pille wat nie die siekte gesond kan maak nie, maar waarsonder die simptome nog erger is.  Ek drink hulle 4 keer per dag, stiptelik elke vier uur.  Maar die tydperk waartydens die pille effektief werk kan wissel van 3 tot 4 uur.  Partymaal werk daai pilletjies net op die verkeerde tyd te vinnig uit.  Dis dan wanneer ek daar in die geselskap sit met ‘n dowwe kop, wanneer ek stiller raak, konsenstrasie swakker, wanneer ek stadig raak, die treetjies korter.  Totdat ek weer die pilletjies gedrink het en die dopamien weer ‘n kans gekry het om te begin werk…

Saans 8uur drink ek net ‘n halwe dosis.  So ongeveer wanneer almal so sosiale lewe begin, neem my vermoëns af en dan kom daai vermoëns nie weer terug nie.  Dit is dan wanneer Aspoestertjie in ‘n pampoen verander..!!! Sommer vroegaand al!

En ons mis die sosiale lewe, om te onthaal en lekker te kuier met vriende en familie.  Ons maak ander planne en nuwe planne.  Sal dit nie beter wees om vroeër te kuier nie?  Korter kuiertjies.  Dalk laat middag, wanneer die son ondergaan, hier in my tuin met ‘n glasie wyn en ‘n snackie.  Of ‘n lekker ontbyt saam met iemand op ‘n Saterdagoggend.  Middagete op ‘n wynplaas.  Brunch na kerk…? 


Mag ek maar op jou bank lê as ek moeg is?

Val maar sommer hier by ons in vir impromptu kuiertjie! Ons is hier en is saam met die honde bly wanneer julle kom kuier!

Kyk intussen hoe lyk die ingange by die koffie shops, restaurante en wynplase.  Het hulle toeganglike toilette, is daar gruis op die parkeerterrein of plaveisel, skerp opdraende?  En laat weet asseblief wanneer julle ‘n lekker kuierplekkies ontdek.   Dalk kan ons mekaar daar ontmoet!


4 comments:

  1. G'n niks van Aspoestertjie of pampoene nie! Jy laat mens sprakeloos! Maar weet net my huis en my badkamers is toeganklik en hier is 'n lekker lang bank en 'n gemaklike bed as jy jouself bietjie bymekaar wil kry!

    ReplyDelete
  2. Jy is seker die grendste Aspoestertjie wat ek ken !! Sit seker mooi stil en dut en niemand kom agter hoe sleg jy eintlik voel nie ! Dink die Saterdag brekfis klink net die ding ! Oppad soontoe kan almal sommer n warm broodjie, brotchen, lekker hamsoorte, joghurt, vars vrugte en room optel !! Instant brekfis ! Die room is vir roer eiers. Heerlik, moet se ! Kop op !
    Gesina

    ReplyDelete
  3. Sien my comment het "verdwyn". soos 1 van die kinders sê: "You are BC . . . before computers" so is jy en die pampoen . . . ""jy is "above" pampoen . . . het jou ge-mail! Jy mag soos pampoen voel . . . . netie soos pampoenmoes nie. Not a dammm!!!!! C u Soon!
    IA

    ReplyDelete
  4. Christine Appel Ek het gelees en kommentaar gelewer - as "Anon" . Vergeet van Aspoestertjie en vergeet van pampoene! My huis is plat en hier's 'n lekker lang bank!
    November 13, 2010 at 7:53pm · Unlike · 1 person
    Sonja van Rhyn Dis baie bemoedigend om sulke kommentaar 7uur in die oggend te lees! B dankie! :)
    November 14, 2010 at 6:02am · Like · 1 person

    Laurette van der Merwe I read and tried to leave a comment there, but couldn't find a place. So here goes .... Tanya went through the same as you are going through now and just know that there are ways and means of getting you to where you want to be and what you want to do. Your true friends will always be there to help you and take care of you and offer you their assistance. Don't allow this to keep you awake. You are too precious to not get a good night's sleep. Where there is a will there is a way. ♥ ♥ ♥ ♥
    November 14, 2010 at 7:34am · Unlike · 2 people

    Marlene Van Jaarsveld Love it Sonja...so reg uit die hart. Hoop ons kan kuier die Des op 'n goeie tyd vir jou... Ek het 'n lang, sagte pienk bank en met 3 seuns wat ek deur die roller blade en skate board-era genurse het, gaan ons 'n ramp bou net vir jou!
    Hugs!!
    November 14, 2010 at 3:45pm · Unlike · 3 people

    ReplyDelete