Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.~ C.J. Langenhoven



Friday, November 19, 2010

NIETS TOT IETS MET HANSIE IN DIE TUIN

Jan 05

Hansie werk al van 1982 af vir ons en nog langer as dit vir die familie.  1992 trek ons hier in Millsstraat in en ek en hy begin die tuin van so te sê niks.  Met pikke en grawe werk ons dae, weke en maande lank.  Grawe bourommel uit, kap harde grond op, werk hope kompos in, plant gras, struike, blomme, bome….


gister

Tussen alles deur vermaak hy ons met die wonderlikste “Hansie-stories” waarvan die oorsprong vir ons ‘n misterie bly.  Ons het geen idee hoeveel daarvan op die werklikheid gebaseer is en hoeveel daarvan kom uit sy vindingryke verbeelding nie.


Lida en Johnny spit die eerste sooi - 1992




Jan 05

Donderdag vroegoggende sal ek vir die honde se:  “Hansie kom vandag!”  dan spits hulle ore, draai hulle koppies skuins, begin hulle opgewonde huil en hardloop motorhuis toe om hom te gaan soek.  Wanneer hy inkom word daar behoorlik getjank van blydskap en elkeen word deur Hansie opgetel en gegroet.



Voor ons begin word daar eers wedersyds verneem na mekaar se gesondheid en familie sake.  By hom kry ek ook dikwels nuus oor verwikkelinge by die res van die familie.  Party van die nuus word weliswaar ‘n bietjie ‘opgespaais’ en moet met ‘n knippie sout geneem word.  Volgens hom drink hy 14 pille vir bloeddruk en sy maag en wanneer hy nie lekker voel nie, dan gaan sien hy vir ‘dogter Kruger’.


Nov 06


Altyd sal hy moeite doen om ‘n begrafnis by te woon wanneer iemand in ons familie afsterf en het al hand bygesit by die dra van ‘n kis.  Dan doen hy moeite met sy voorkoms en dit is ook die enigste tye wat ons hom sonder sy kenmerkende wolmus sien.

gister


Onder daardie wolmus het hy partykeer ‘dreadlocks’ soos ‘n rasta, afhangend van sy huidige geloofsoortuiging.  Ek herroep stadiums van rasta, Moslem en ook dat hy Sondagskool gegee het, waar die kinders hom teen die mure uitgedryf het en hy hulle net wou slat!


Altyd is hy gewillig om enige tuingier wat ek kry saam met my aan te pak en deur te voer.  Sommer enigiets anders wat ek gedoen wil hê ook.  Verfwerk, skuif die swaar meubels, was die motor en poleer die skoene.  Altyd ewe gemoedelik en vriendelik, alhoewel nie altyd ewe energiek nie.  Het ook maar sy ‘af’ dae en word ook maar saam met ons oud, hare of dreadlocks nou grys.  Met ‘n woordeskat van ‘Hansie-taal’ wat woorde insluit soos ‘kemmels’, wanneer die honde ‘kennels’ toe geneem word en ‘sibility’, wanneer hy sy ‘disability’ moet gaan haal.  Sy een been is korter as die ander en hy loop mank.  Kleintyd het ‘n motor hom raak gery en erg beseer.

vanoggend
 
Maar die nuutste storie is ‘n treffer!  Hy vertel van Jerome wat in Zimbabwe werk by ‘n dambouery.  En volgens Jerome kom die Zimbabweërs oor die rivier by ons grens deur mekaar dood te maak, die dooie mense vir die krokodille in die rivier te gooi en dan, terwyl die krokodille die mense vreet, hardloop die ander op die rûe van die krokodille oor die rivier in Suid-Afrika in!

Tuinwerk is pure plesier met Hansie en deesdae is hy my regterhand en my linkerhand.  Ek dank die Here vir hom en wonder wat ek eendag gaan doen…….?

7 comments:

  1. Wat sou ons tog sonder Hansie gedoen het! Hy werk nou by ons ook en praat van "sy tuin".

    ReplyDelete
  2. Die Here het geweet om Hansie in jou lewe te bring al die jare gelede. Jou en Hansie se tuin is pragtig.

    ReplyDelete
  3. Ek word al hoe meer bewus dat die Here al lankal die mense wat ek nodig het op my pad geplaas het. Sonja

    ReplyDelete
  4. You garden is beautiful. If you ever want me to come and photograph your garden it would be my pleasure and my gift to you!

    ReplyDelete
  5. Ja, die Here plaas die regte mense langs ons pad, al is dit ook 'n Hansie!

    ReplyDelete
  6. Al wat hier kort is 'n kiekie van my blonde brawe vriending onder haar avoboom op een van haar uitgestrekte stoele, saam met die ou hondjies

    http://afrikaansegriffel.blogspot.com/2010/02/vir-my-liefste-vriendin.html?utm_source=BP_recent

    ReplyDelete
  7. Wilma Munro Möller Jou tuin is baie baie mooi - regtig 'n heerlike plek om tot stilstand te kom en die natuur in al sy glorie te geniet!!
    November 19, 2010 at 11:56am · Unlike · 1 person

    Jean Neale-May Sonja, your garden and your writings are wonderful!
    November 19, 2010 at 12:19pm · Unlike · 1 person

    Marlene Van Jaarsveld Sonja... in jou tuin wil ek tee drink!! Dankie vd stappie deur die tuin en die Hansie-stories!
    November 19, 2010 at 1:37pm · Unlike · 1 person

    Annemarie Kuhn-maiden Name Nieuwoudt Pragtige foto's
    November 19, 2010 at 2:13pm · Unlike · 1 person

    Lynette Knott Ai....ek wil ook 'n Hansie hê Sonja......sê asseblief vir Hansie sy hande is "Magic" en jou tuin is pragtig!!!! Ek will sommer net daar tussen al jou pragtige struike gaan sit! X
    November 19, 2010 at 2:43pm · Like · 1 person
    Sonja van Rhyn Dankie almal! Ja dis 'n voorreg om Hansie se hulp te he. Van die fotos is in 2005/6 geneem en ek kry dit nie op die oomblik reg om daardie standaard te handhaaf nie, maar ek streef nog daarna!
    November 19, 2010 at 7:12pm · Like

    ReplyDelete