Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.~ C.J. Langenhoven



Saturday, April 16, 2011

'N ROOS VIR JOU.....MA MITA




Ek was net negentienjaar oud toe jy in my lewe gekom het en van die eerste oomblik af het jy my onvoorwaardelik aanvaar.  Jy het vertel dat dit die eerste keer was wat Johnny ‘n meisie by die voordeur ingebring het en toe het jy sommer namens hom geweet;  DIT is die een!



Eintlik was ek maar nog ‘n kind.  Onvolwasse, onseker en voortvarend.  Net ‘n stokkie met ‘n paar dorings.  Maar jy was ‘n tuinier met groen vingers wat ‘n besemstok in die grond kon steek en dit laat groei!  Oral waar jy kom het jy altyd stiggies gebedel.  Partykeer oor ‘n heining geleun en skelmpies ‘n stiggie gegaps!  As jy ‘n rangskikking met angeliere sien, sal jy altyd vra of jy dit kan kry wanneer dit klaar geblom het.  Vir jou was dit nie net ‘n dooie blom nie.  Jy het altyd die potensiële nuwe plant daarin raak gesien.



So het jy ook vir my gesien.  Vir jou was ek nie net ‘n ou stokkie met ‘n paar dorings nie.  Jy het geglo ek was ‘n roos.  Jy het my gevat, en soos al jou ander stiggies, het jy ‘n gat gespit en met jou voet goed vas getrap in die grond, mis by gegooi, ‘n wal met grond rondom gemaak en met die tuinslang die water stadig daarin laat loop sodat dit lekker diep nat geword het.

En so het jy deur die jare altyd vas geglo dat die plantjie eendag pragtige blomme gaan dra.  Gereeld het jy dit met liefde versorg.  Nat gelei, nog mis ingespit as dit lyk of dit wil vrek.  Totdat ek later self begin glo het ek is ‘n roos.  Dis wat geloof en liefde aan mens doen.  Dit laat jou blom!

Hierdie week stap ‘n vriendin met my deur die mall en ons loop ‘n voormalige kollega van my raak.  Sy vertel toe vir my vriendin dat sy 5 jaar saam met my gewerk het en dat ek altyd net geglimlag het en nooit ‘moody’ was nie.  In werklikheid het ons maar 18 maande saam gewerk en ek het maar geglimlag oor hierdie stelling, want ek besef toe sy sien ‘n roos!  My vriendin se antwoord was:  “joooong sy kan maar lekker kwaai raak”!  En toe glimlag ek nog wyer!  Vriendin jy sien die dorings, want ek het jou toegelaat om naby die stam te kom!



My liewe Ma Mita, ek sal altyd daarna streef om die roos (met dorings!) te wees wat jy geglo het ek is.


"I've learned that people will forget what you've said, people will forget what you did, but people will never forget how you made them feel".  Maja Angelou

6 comments:

  1. Ek kan voel hoe hierdie woorde uit jou hart oorgeloop het - dis beautiful - nes jy. x

    ReplyDelete
  2. Verruklike sirkel van saamwees . . . mag ons ons kinders se vriende/vriendinne ook so laat voel!!

    ReplyDelete
  3. Wat 'n pragtige getuigskrif - vir albei van julle!

    ReplyDelete
  4. Dis die mooiste getuienis vir n skoonma wat ek nog ooit gelees het ! En deur die jare was ek altyd bewus daarvan dat jy jou MaMietie baie waardeer en geniet ! Was ook half jaloers op so n lekker verhouding !! En as ek eendag n skoonma is, sal ek streef om die takkie te laat blom !!! Met baie liefde !

    ReplyDelete
  5. Dankie Gesina. Ek was rerig bevoorreg om so 'n skoonma te he.

    ReplyDelete
  6. Loubser van Rhyn Mooi storie Ma. X
    April 16 at 8:53pm · Unlike · 2 people

    ReplyDelete