Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.~ C.J. Langenhoven



Thursday, September 22, 2011

GEVONNIS; R6000 OF 6KG!






Gister het ek my tromp op vasgeloop in hierdie vonnis van die arbeidsterapeut, haar blou oë genadeloos en stip op my gerig. Jy het oortree en jy gaan betaal sussie!  Ag, en ek het gedink dis die een ou sondetjie waarvoor ek noooooit uitgevang sal word nie.  Maar helaas, susters in die ‘vetdrukking’, “the mighty has fallen” en ek doen hiermee nederig aansoek om toelating tot die “weight watchers” klub!

Ek hoop dis ‘n verbruikers vriendelike klub hierdie, want vir die afgelope paar jaar was ek ‘n eensame uitgeworpene wat in die buitekringe beweeg het saam met diegene wat geweeg-en-te-lig bevind is vir lidmaatskap.  Moes ek vele vrae verduur soos “hoekom is jy so maer”, of “moet jy so maer wees”.  Maar die toppunt van nydigheid is sekerlik vasgevang deur die vrou in die gym wat, nadat ek haar vertel het dat ons met vakansie was, met ‘n op en af veeg van haar oë oor my lyf gesê het, “and wasn’t there any food”?!!

Moet nou nie dink ek hoor nie daardie onderdrukte laggies agter julle hande nie!  Ek, die voormalige, hiperaktiewe profeet van ‘n gesonde leefstyl, met “Eet vir volgehoue energie” onder die een blad en “Patrick Holford” onder die ander blad, het die gesonde pad byster geraak en verdwaal in vele paadjies geplavei met Lindt sjokolade en vele koffiewinkeltjies propvol hoëvet, lae vesel versnaperings.

Verlede September, toe die MSA vonnis gevel is, kon ek beswaarlik ‘n bord kos in die oë kyk sonder om naar te word, dus was dit ‘n groot skok om nou een jaar later gevonnis te word vir ooreet.  Tussen toe en nou het almal vir my allerhande lekker goedjies aangedra om my weer aan die eet te kry, maar hulle het vergeet om te sê dat ek moet briek aandraai.

Maar al maak ek nou al my medepligtiges bekend, moet ek eerlik erken, ek het alles wat hulle aangedra het vrywillig verorber!  Wanneer Johnny saans ingeloop het met die sakkie inkopies, was ek en die honde ewe nuuskierig en ewe bly oor die inhoud van daardie sakkie (en hulle is nou ook vet) (lelike, bar, drieletter woord daai!).  Hier is voorraad opgebou in die eetkamerlaaitjie wat skrik vir niks en dan is daar nog my geheime voorraad in my bedkassie se laai ook.

Ek kan ook verskeie van my medikasies beskuldig dat hulle bygedra het tot hierdie dilemma.  Ek kan ook die dokter wat gesê het ek moet soggens ‘n pakkie chips eet om my lae bloeddruk op te stoot, hierby insleep, maar ek moes geweet het wat die gevolge gaan wees( het mos ‘n boekrak vol gesondheidsbybels wat ek gelees het).  Toe ek al hoe minder beweeg het, moes ek mos geweet het dat ‘n motor wat stilstaan nie so baie brandstof gebruik nie.  Maar ek het bly dink dat ek nog daardie hoëverrigting sportmotortjie het en dan gooi ek die tenk vol met hoë oktaan brandstof.

Weet julle dat ‘n sweetpakbroek soos ‘n babygrow is? Hierdie broeke wat ek aan die begin van die winter gekoop het, pas nog lekker gemaklik en flous jou om te dink dat alles nog reg is.  Die stukkende skaal het ons in Januarie uitgegooi en toe soos volstruise met ons koppe in die sand, gemaak asof ons nie sien dat die rolletjies groei nie.  Die mense het mos gesê dat ek te maer is, het ek my self getroos.

Johnny gaan vir ‘n cholesterol toets en die rooi liggies begin flikker toe die medikasie opgestoot word van 40mg na 80mg.  Toe kom die nuwe skaal en ek begin wonder of die vetjies nie te veel raak nie.  Dis my seer rug wat die boodskap uiteindelik laat registreer.  Ek is met die seer rug na die fisioterapeut, wat tot die gevolgtrekking gekom het dat ek skeef sit en dit veroorsaak die rugpyn.

Gister is ek toe na die arbeidsterapeut om die skewe sittery aan te spreek en toe kom die vraag, “Het jy gewig aangesit"?  Ek beken met 'n skaam kopknikkie.  "Hoeveel"? My brein maak 'n paar vinnige somme en ek trek 2kg af van die 6kg, want julle het mos gesê ek was te maer.  Maar sy kyk vir my aan met die oë van ‘n vrou wat vrouens ken wat lieg oor hulle ouderdom en gewig en toe volg die vonnis, “Sonja jy het te vet geword vir jou rystoel se kussing, dus bied die kussing nie die nodige ondersteuning vir jou rug nie”!  Prys van ‘n nuwe kussing R6000 (nee die mediese fonds gaan nie 11 maande later weer betaal nie vir ‘n nuwe kussing nie), of verloor die 6kg sodat daardie boude weer netjies in die kussing se holtetjie pas!  Ouch!

2 comments:

  1. EN... ek lag nou lekker agter my bakhande... jy is kostelik!!

    ReplyDelete
  2. Hehehe! Hierdie griffels kikker my dag lekker op! Lekker daggie daar!!! Louise

    ReplyDelete