Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.~ C.J. Langenhoven



Monday, February 13, 2012

EK KRY NIE MY KOP OOR HIERDIE KWESSIE NIE




Saam met hierdie siekte oor die afgelope paar jare het daar ook allerhande rate en kure gekom.  Almal van hulle met goeie bedoelinge om my gesond te kry.  Party van hulle het ek probeer, maar, soos my vriend Kobus vanoggend tereg aanhaal; “Some remedies are worse than the disease”!

So hoor ek dan vele kere van ‘n dokter wat ‘n masjien het wat wondere verrig.  Hierdie veelsydige masjiene, word beweer, kan jou na ‘n paar halfuur sessies genees van enigiets vanaf kanker tot hardlywigheid.  Nou vra ek julle hoekom is daar nog so baie siek mense in hierdie wêreld en hoekom kry elke dokter nie net vir hom so ‘n wonderlike masjien nie?  Dit sal mos vir ons almal baie moeite, verdriet en baie pille bespaar!

Dan is daar die beweringe dat ons water vol allerhande swaar metale en ander skeffiebeffels is wat verantwoordelik is vir lelike siektes.  Vir die wis en die onwis skaf en toe maar vir my ‘n waterdistilleerder aan.  Dit, dink ek toe, kan ten minste nie skade aanrig nie (dis nou behalwe die skade aan my bankbalans).  Maar ook dit het niks gehelp, gekeer, of verbeter nie en na Eskom se verhoging in elektrisiteits tariewe sluit ek nou daardie episode af met die volgende advertensie; Te koop:  Waterdistilleerder in goeie werkende toestand.

In my desperate pogings om met ‘n hiper-gesonde lewenstyl wal te gooi teen wat besig was om te gebeur, was ek kort-kort in een of ander gesondheidswinkel.  So kruis my pad toe met die eienaar van een so ‘n winkel wat beweer dat hy homself van MS genees het, en dat hy sy geheime met my sal deel as ek ‘n afspraak met hom maak.  Opgewonde maak ek ‘n afspraak en agter in sy kantoortjie vertel hy my dit is die amalgaamstopsels in my tande wat hierdie probleme veroorsaak.  Maar, gooi ek wal, ek het al vyf jaar gelede die amalgaamstopsels met porseleinstopsels vervang.  Nou maar dan moet dit my wortelkanaal behandelings wat die probleem veroorsaak.  Sy raat daarvoor is; ek moet Pretoria toe na ‘n tandarts vriend wat onder narkose die sondige tande met wortelkanale en al chirurgies sal verwyder.  Met groot oë  vra ek of ek dan nou valstande sal moet kry?  Nee, antwoord hy, valstande van enige aard is net so giftig soos amalgaam en wortelkanaal behandelings.  Vierhonderd rand later vlug ek daar uit met die belofte dat ek daaroor sal dink.  Gmff, hy ken my sleg!  Ydele mens wat ek is kon ek my nie vereenselwig met die prentjie van ‘n gebit met vele gapings nie!



Ek het ook die organiese paadjie geloop en vroegdag opgestaan om vars produkte by plaasmarkte te koop.  Die liggaam kan blykbaar homself genees as jy hom net van die regte bestanddele voorsien, dus het ek myne die beste kans gegun deur hope organiese groentes en vrugte te versap, maar ook dit het geen effek op my besonderse pestilensie gehad nie, maar al die organiese afval het darem baie lekker kompos vir my tuin gemaak!

So met die tyd het ek meer sinies geword oor wonderkure en agter gekom dat desperate mense maklik die prooi van ander se geldmaakplanne word.  ‘n Vriendin van my het altyd gesê; “wanneer mense regtig siek is, gaan hulle na regte dokters”. Vir alle verdere voorstelle van wonderkure het ek dus die volgende standaard antwoord geformuleer; is daar dubbel blinde toetse vir my siekte gedoen en waar kan ek hierdie toets resultate te lese kry?  Die mediese professie het al klaar ‘n aansienlike duik in ons bank balans gemaak en om elke kuur daar buite persoonlik te toets sou net tot bankrotskap lei.

Tot laas Vrydag het ek rus en vrede gehad dat ek nog altyd my bes gedoen het om hierdie ding met hand en tand (met al my tande nog in my mond!) te beveg.  Toe stap iemand hier in op ‘n oomblik wat ek besonder weerloos was en met plastiek skotteltjie binne maklike reik afstand vir die 'nare' simptome van MSA gelê het.  Sy vertel dat daar in die Huisgenoot ‘n artikel is oor ‘n man wat homself genees het van motorneuronsiekte – dieselfde ene wat nou vir Joost van der Westhuysen treiter en dat dit net ‘n kwessie is van “mind over matter” dan is alles hankiedorie.

Saterdag stuur ek vir Johnny kafee toe vir die Huisgenoot (ek sweer dis die eerste een in jare!) en ‘n sjokolade (nee, ek gaan nie meineed pleeg nie, julle ken my te goed!).  Hierdie artikel moet ek darem eerstehands lees.  Die pragtige foto van ‘n atleties gespierde man met ‘n pienk-met-wit-kolle Speedo aan wat deur die branders hardloop is treffend (jammer meisies, maar hy het sy vrou aan die hand), en die enigste sigbare teken van sy siekte is ‘n minder gespierde linker arm.  Hy berei hom tans voor om in die paralimpiese spele te swem en hy het die siekte oorkom deur daaglikse meditasie en deur bevestigingstegnieke toe te pas (hy sê oor en oor vir homself om gesond te raak).

Ai tog, waar, hoe en hoekom het ek en Joost en al die duisende ander pasiënte met neurologiese siektes so jammerlik gefaal.  Is ons koppe net nie sterk genoeg vir hierdie kwessie nie?

Maar wag ek het dinge om te gaan doen, soos om kruisbeen te gaan sit en diep en aandagtig myself te oortuig dat ek gesond sal word……

NS: Ek hoop dat 'n ondersoekende joernalis eendag behoorlike navorsing sal doen en ‘n goed gegronde artikel oor neurologiese siektes sal skryf.  

3 comments:

  1. Met humor en deeglikheid geskryf - dis reg - sê hul vir 'once and for all' - jul foefie rate help absoluut bogger-ALL!

    ReplyDelete
  2. Ek verstaan baie goed jou situasie - is so net meer as 20 jr terug met yuppie-griep gediagnoseer, waarop baaaie gevolg het. ek kon baie dinge doen, het gedraf, gestap naaldwerk, hekel en so meer nooit ledig....
    Vir Emilene klas gegee by kollege voor ek gevra is om onderwys en kollege te verlaat - aakligste tyd in my lewe
    Vandag leef ek steeds, doen wat ek kan wanneer ek kan en het intussen baie vermag t s v siekwees. het refleksiologie diploma verwerf moes op hou agv arm wat nie wil saam wer. Cranio-Sacral Therapy studeer en toe ek amper klaar is, siek geowrd, en moes ophou... baie draaie geloop by drs, kwakke, homeopate en en
    ook die kerk paadjie geloop met jy word nie gesond nie, want jy glo nie genoeg nie...
    Ek dank my God en Here dat Hy my steeds dra deur al die donker dae en ek weet my gesondheid is ook in Sy hande en NET HY kan jou vrede/berusting/'herstel' gee op Sy manier, wat dikwels nie altyd is wat ons wil wou he nie. jy is welkom om met my in verbinding te tree sou jy so voel kry my besond by emilene

    ReplyDelete
  3. Dankie. Ek kan só hiermee assosieer.

    ReplyDelete