Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.~ C.J. Langenhoven



Tuesday, July 2, 2013

MUIS OF LEEU?

Hierdie is ‘n geredigeerde weergawe met skuilname van ‘n epos aan my liewe vriendin op 11 September 2011.

Liewe Sissi

Vanoggend het ek vieruur wakker geskrik van ‘n nagmerrie en lê toe en dink aan gister se kuiertjie by Marta.  Ek het so lank en opgewonde uitgesien daarna en toe word dit 'n lang stryd.  Ek wil so bitter graag 'n dapper vrou wees wat saam met normale mense onder normale omstandighede kuier, maar die alledaagse word ‘n ewig groter wordende hindernis vir my. Niemand is meer teleurgesteld as ek wanneer ek wanneer ek nie meer in staat is om hierdie hindernisse te oorkom nie.

Die nuutste hindernis is om ‘n koppie van die tafel af tot by my mond te kry.  Dit verg al my konsentrasie en wilskrag en die stres van moontlike mislukking laat my die ritteltits* kry, wat alles net verder vererger.  In gister se stryd met die koppie het ek later met my linkerhand aan die tafel vasgeklou vir ingeval my linkerbeen aan die ruk raak en die ritteltits my oorval wanneer die koppie tussen die piering en my mond is.  Ek was vrees bevange dat ek die koppie op die keurig gedekte tafel sou laat val.  Daarom het ek toe nie veel geëet nie, want vir ‘n verdere stryd met die heerlike eetgoed, het ek nie kans gesien nie.  Ek kry nou hierdie komiese prentjie in my kop van Elizabeth, Hyasinth Bucket se buurvrou in die sitcom 'Keeping up Appearances', wat altyd die koppies laat val het omdat die stres om uit die onvervangbare erfstukke te drink veels te erg vir haar senuwees was!



Sissi en ek Saterdag 29 Junie 2013 by haar nuwe meer toeganklike huurhuis 

Ek het my misgis toe ek gedink het die afspraak is net vir ‘n oggendtee en dat ek in 2 ure uit en tuis sal wees.  ‘n Tydperk wat my blaas, met die hulp van ‘n pilletjie, hopelik sou kon hanteer.  Toe word die tweede helfte van die kuier oorheers deur my blaas.  Een na die ander staan die vrouens op om badkamer toe te gaan, en ek wonder hoe lyk daardie badkamer?  Om met ‘n vol blaas te gaan ondersoek in stel of ek en die rystoel sal inpas en dan onverrigter sake om te draai, sou sake net vererger.  Ek was bevrees dat die drang my sal oorval as ek eers daar is, en ‘n publieke spektakel sou my selfvertroue ‘n ewige knou gee.

Toe ons in die motor oppad terug daaroor gesels, kom ek agter jy weet ook nie regtig wat nodig is in 'n badkamer om dit ‘n veilige en doenbare ondervinding te maak nie, en dit is my skuld.  Ek nooi jou dus uit om saam met my te kom kyk wat my badkamervereistes is.  Ons Klaradyndansie wanneer jy my uit die rystoel help om in die Lazygirl te sit is ‘n ander saak; daardie choreografie is fyn uitgewerk en die dansers is goed ingeoefen, die opvoering geskied in ‘n rustige omgewing sonder die prestasie-angs veroorsaak deur ‘n vreemde gehoor.

Daar moet die nodige spasie direk langs die toilet wees om my rystoel te parkeer, asook 'n handreling aan die anderkant sodat ek kan oorleun om daaraan vas te hou en dan oor te skuif. 





Liewe Sissi, party dae dink ek dat ek die leeu is wat jy my op die MSA blog noem, maar word dan keer op keer deur my liggaamlike beperkinge herinner dat ek eintlik net ‘n (soms dapper) muis is.  Maar dit is jou en ander se geloof dat ek tot meer as ‘n muis in staat is wat my telkemale laat opstaan om weer te baklei.  Miskien is ek more, of volgende week weer ‘n leeu.

Liefde

Juffrou Muis

 * Tydens my laaste afspraak met die neuroloog op 13 Februarie 2013 het hy die rukkery van my linkerbeen (die ritteltits) as Dystonia gediagnoseer.

* Weens die aard van MSA was daar degenerasie sedert 2011.


3 comments:

  1. Al die komplikasies wat jy so mooi beskryf, sjoe, ek onthou dit so goed met my Ma. En ek wil graag vir jou se dat al is jy bang, senuweeagtig of skaam met tye...dit maak jou nie n muis nie. Om te leef met MSA, en nog meer soos wat jy klaarblyklik doen, en soos my Ma het, maak jou verseker n baie mooi leeu. n Baie groot inspirasie!!!!! xxxxxxxx Liebet

    ReplyDelete
  2. This comment has been removed by the author.

    ReplyDelete
  3. Ja, jy ken verseker hierdie pad wat jy saam met jou ma gestap het goed Liebet. Baie dankie vir jou mooi woorde en jou ondersteuning. xxxxx Sonja

    ReplyDelete